Met Bolander se laaste onderhoud (in 2021) was Rodney Goliath, van Paarl, nog ’n tweedejaar BA-student in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch; maar hy het toe reeds baie vasbeslote sy planne gedeel om sy akteursdrome na te jaag.
Rodney, ’n gewilde rymkletser het eers naam gemaak met sy deelname in Maak My Famous, die talentkompetisie waartydens hy gehore, sowel as beoordelaars met sy rymkletsvaardighede beindruk het.
Hy het vanjaar sy dramagraad voltooi en sy akteursdroom is reeds n werklikheid met sy eerste akteursrol as die karakter Gio, op KykNET&kie se gewilde Telenovela, Arendsvlei.
’n Verwikkeling waaroor hy baie opgewonde oor is.
“My eerste keer op stel was amazing, dit is rerig vir my ’n droom wat waar word en soos ek vir baie ander mense sé ek geniet meer die journey so alles wat ek leer is ongelooflik.
“Ek leer nou hoe om met klomp mense te werk stel, want as ek musiek doen werk ek alleen, maar nou werk ek met verskeie mense en verskeie energies en dis vir my ’n nuwe ervaring.”
Hy beskryf homself as ’n spons op stel wat net alles om hom indrink en daaruit leer en groei.
Die loslaan van ’n rol in Arendsvlei, was iets wat hy as ver buite sy bereik beskou het.
“Dit was ’n groot skok gewees. Ek het nie vir myself ingedink dat dit spesifiek so sou gebeur het nie, in die manier hoe ek gebid het daarvoor nie, die tipe rol wat ek gekry het (daar is niks fout met ander rolle nie), maar hierdie een is spesiaal want dit is presies waarna ek gesoek het, om nie ’n veralgemening te vertolk wat in die samelewing aangaan nie, maar net ’n goed afgeronde ou te speel,” sé hy.
Die vooruitsigte in sy akteursloopbaan maak hom opgewonde. “Ek is gereed vir nuwe uitdagings, nuwe geleenthede, nuwe projekte en nuwe karakters.
“Ek wil nie net gesien word as een spesifieke of tipe karakter nie, maar wil uitgedaag word buite my gemaksone.
“Ek is gereed vir enige tipe karakter, gee my die rol van ’n baie goeie besigheidsman, ’n ervare politikus, ’n goeie gemeenskapsleier, ’n rolmodel, ’n superheld; ek is gereed vir daai tipe uitdagings.
Hy wil met sy akteurwerk wegbeweeg van die stereotipiese uitbeeldings van bendes of slegte karakters nie, maar wil met goeie, suksesvolle karakters aan jongmense positiewe moontlikhede uitbeeld.
Met hierdie TV rol moes hy spoedig die sprong maak vanaf bekende rymkletser, Rotas The Rapper, na akteur en sy ritme vind in die verskillende dinamika tussen musiek maak en toneelspel.
Maar hy geniet hierdie nuwe kreatiewe platform van toneelspel, veral die insette, leiding van ander en die struktuur.
Hy moedig ander jong Paarliete aan om in hulself te glo in die najaag van hul drome. “Ek glo altyd in myself voor ek enige iets aanpak ek weet ek gaan en sal dit kan doen, maak nie saak wat die uitkoms gaan wees nie, en al is die uitkoms ’n mislukking dan leer ek daaruit.
“Jy leer in elk geval meer uit ’n verloor as uit ’n wen.”
“Hou vas aan jou drome glo in jouself en moenie vergeet om vir God deel van al jou planne te maak nie,” gee hy raad.