Die inskrywings in die 2022 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie is onlangs beoordeel.
Dit het ’n intensiewe beoordelingsproses behels wat vanaf Dinsdag Augustus 30 tot Donderdag September 1, by die Uitkyk-landgoed in Stellenbosch, plaasgevind het. ’n Uitgesoekte paneel van kenners het hier alle fasette van die wyne beoordeel.
Die kompetisie se 20 finaliste word later vandeesmaand bekendgemaak waarna die Top-10 op Donderdag Oktober 13, tydens ’n toekenningsgeleentheid aangekondig sal word.
’n Persverklaring uitgereik deur Sauvignon Blanc SA, verklap hoe daar ten doel van die kompetisie gekyk is na die gehalte, tekstuur, balans tussen vrug en suurstruktuur, kompleksiteit, elegansie en ’n wye verskeidenheid van style. Daar is vanjaar altesaam 161 wyne van 102 produsente beoordeel
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en paneelsameroeper, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, wynmaker Morgan Steyn van De Grendel, Kaapse Wynmeester René Groenewald asook ’n protégé-beoordelaar, Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland.
In die grootste kategorie, ongehoute Sauvignon Blanc-wyne van die 2022-oesjaar, is altesaam 88 wyne geproe en die gehalte en afwesigheid van foutwyne het dié kategorie gekenmerk. Uitstekende houtbestuur het die gehoute klasse onderskei.
“Die ouer gehoute wyne het beter as ooit vertoon, ’n bewys dat Suid-Afrikaanse wynmakers in staat is om wel ons Sauvignon Blanc te verouder,” het dr. Bowman gesê. Volgens hom het uitstekende houtbestuur die vruggeure uitstkend ondersteun en die nodige tekstuur aan die wyne verleen.
Hoewel 2022 ’n uitdagende oesjaar was, was daar baie indrukwekkende wyne in verskillende style wat joernalis en internasionale wynbeoordelaar, Fiona McDonald, veral beïndruk het. “Daar was beslis minder suurwanbalanse en die 2022-wyne is beslis markgereed.”
Johann Fourie van Benguela Cove was ingenome met die tegniese aspekte van die wyne. “Ons het vanjaar minder reduktiewe wyne gesien. Die ware karakter van Sauvignon Blanc het geseëvier en selfs die wyne wat op die moer verouder is, het my aangegryp met die tekstuur.”
’n Tegniese seminaar word op Woensdag 30 November 2022 in samewerking met die Departement Wingerd-en Wynkunde by Universiteit Stellenbosch gehou.
Vanjaar se kompetisie word met die ondersteuning van die Top 10-titelvennoot FNB en platinumvennoot EVER Solutions aangebied.
“Sauvignon Blanc is nie net die gewildste witwyn in Suid-Afrika nie, dit verkoop ook teen premiumpryse,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.
“Hierdie druifsoort is ’n unieke bate wat help om ’n sterk handelsmerkreputasie vir die land te bou en te handhaaf. Ons Sauvignon Blanc was nog nooit meer gereed om die wêreld te verower nie.
“Ons sien uit na die blootstelling wat ons sal ontvang wanneer ons die Concours Mondial du Sauvignon in Maart 2023 in Suid-Afrika aanbied, aangesien dit die eerste keer in die kompetisie se veertienjarige bestaan is dat dit buite Europa plaasvind.”
Sauvignon Blanc SA bevorder Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc se gehalte plaaslik en internasionaal. Enigeen kan ’n lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet.
Vir meer inligting, of om in te teken op die Sauvignon Blanc SA-nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440.