Prins Alfredpas end die fietsryers

Op 24 September vanjaar loop Uniondale weer óór wanneer die jaarlikse Lions Karoo tot Kus fietsmarathon op die dorp wegspring en in Knysna eindig. Talle fikse Bolanders gaan beslis hierdie epiese tog onderneem.

Wanneer daar eers met die lang trap begin is, gaan daar nie meer tyd wees om die natuur en historiese landmerke in te neem nie.

Daarom is dit miskien tyd om vóór die tyd iets méér te weet oor die landskap en die passe waaroor gery gaan word.

In 1863 het Thomas Bain met 250 bandiete die formidabele taak aangepak om ’n pas te bou wat Knysna met Uniondale verbind. Hierdie roete het toegang tot die Bo- en Onderlangkloof gegee asook ’n wapad-verbinding met Willowmore en Graaff-Reinet. Die taak is in 1867 voltooi.

Tot in die 1930’s was hierdie roete Uniondale se kortste pad na die see en het talle werksmense wat nie motors of motorfietse gehad het, met hulle dikwiel Humber, Hercules en BSA fietse die pad heen en weer aangedurf. In die 1940’s het die nuwe, korter pad, bekend as die Poort, die hoofroete geword en het Bain se pad tussen Uniondale en avontuur in onbruik verval. Plek-plek kan die oorspronlike pad nog gesien word.

Ek het nog nooit in my lewe aan ’n fietswedren deelgeneem nie maar het darem as skoolseun ‘n paar ondervindings met die Prins Alfredpas agter die rug.

As veertienjarige het ek saam met ’n neef van Uniondale af ’n sirkelroete voltooi see toe wat met die afgaan oor die Montagupas was.

Heerlik! Na ’n kort kuier by nog ’* neef wat as kroegman vakansiewerk op Knysna gedoen het, is ons terug huis toe oor die Prins Alfredpas.

Daardie tyd het ons met dunwielfietse, met net een ratverhouding, gery. Die gevolg was dat daar teen die lang steilte van Die Vlug af die fietse met al ons kampbagasie meeste van die tyd gestoot is, iets soos 15 kilometer. Ons het die huis doodmoeg kort voor middernag gehaal.

In 1960 is ek en ’n skoolvriend vir ’n Voortrekkerkamp ’n Vrydagoggend voor skool reeds weg Knysna toe met ons fietse. My skoolmaats van De Vlug, wat party naweke ook per fiets huis toe was, het ons die goeie raad gegee om bo-op die pas aan Avontuur se kant, ’n proteabos af te kap en agter aan die fietsrooster vas te maak.

Op hierdie wyse kon jy jou fiets se briekblokkies spaar. Hierdie raad was goeie raad.

Dawie en ek het met die skotige proteabosse agter die fietse, letterlik en figuurlik, windmaker die afdraand tot by Die Vlug ligvoets getrap.

Die stofwolke het so ’n halfmyl agter ons oor die pad bly hang! (Later word ’n mens wyser en het ek dekades later ’n ere-bosbouer geword).

Die Bain-pad tussen my dorp en Avontuur was teen 1961 onbekende en onverkende terrein. ’n Rede hiervoor was dat die pad oor private eiendom geloop het en ons destyds groot respek gehad het vir draadheinings en hekke met ’n slot aan.

Daar het amper nie meer ’n voetpad oorgebly nie.

Tydens ’n Voortrekkeraktiwiteit het ek met my span, en my dunwiel-fiets, die spore van die ou pas gaan volg en die hoogste punt bereik.

Met die omdraai kry ek toe die plan om die hele span van vier standerd-sewes op die fiets te laai en af te ry tot naby die Joodse begraafplaas waar die pad geeïndig het. Die spanleier was voor op die handvatsels, een oor die raam voor my, dan ek op die saal, een op die rooster agter en dan nog een wat op die rooster staan en aan my nek vashou! Hierdie vrag alles op ’n dunwiel Raleigh!

Die afdraende-tog was vinnig en opwindend en die remblokkies het genadiglik gehou.

Dit laat my dink dat die spoke rondom Uniondale, en waarvan ons Uniondalers almal so bewus van was, in getalle vér oorskadu word deur engele wat (steeds) waghou oor onbesonne skoolkinders en die dinge wat hulle alles kan uitdink, en sommer om regtig te dink, ook doen.