Plaaslike ondernemings word defnitief nadelig geraak deur die afgelope maand se aanhoudende beurtkrag en met Bolander se besoeke aan van hierdie ondernemings, was daar ’n tasbare atmosfeer van frustrasie.
Danielle Coetzee wat die Vetkoekpaleis-eetplek in die Strand beman, vertel hoe beurtkrag die voorbereiding van al die verskillende disse op die spyskaart beperk. Alhoewel die eetplek ’n gasstoof het, beperk dit die kosse wat wel gemaak kan word. “Dit beinvloed veral ons verkope, want ons kan nie alles maak wat die kliënte bestel nie, wat vir ons ’n verlies in verkope veroorsaak.”
Nóg ’n groot nadeel is die opskorting van verkoelingsdienste wanneer yskaste nie die drankies kan koud hou nie, asook die effek op hul operasionale ure wat nou verkort moet word.
“Veral mense wat drankies na werk wil geniet, is glad nie tevrede as dit nie koud is nie.” Sy noem weens die veiligheidsrisiko moet hulle noodgedwonge saans vroeër sluit. “Vanjaar se beurtkrag is baie erger, ons het dit nog nooit só erg beleef nie.”
Nóg ’n klein besigheid in die Strand wat nadelig deur beurtkrag beinvloed word is die Cellular Cellphone Shop in die Twin Palms-sentrum. Malik Afaq, selfoontegnikus en werker, is hoogs gestres omdat beurtkrag die Wifi-konneksie opskort en hul aanlyn-werk vertraag.
“Die donker winkel beteken ook dat kliënte nie na ons voorraad kan kyk nie, ons kan ook nie foutiewe selfone aansit met ons kragnetwerk nie om die foute vas te stel en ons tegniese toerusting soos sakrekenaars kan nie herlaai word nie.” Volgens mnr. Afaq het hulle ’n UPS-toestel aangeskaf, maar dit was op die lange duur onbekostigbaar, want hierdie apparaat se batterye moet herhaaldelike vervang word. “Vir ’n klein besigheid is dit te duur.”
’n Plaaslike haarsalon in Gordonsbaai gaan ook gebukkend onder die nagevolge van beurtkrag. In hul geval lei dit in baie gevalle tot gekanselleerde afsprake, ’n afname in die aantal klante wat hulle daagliks bedien en beperkte dienslewering.
’n Werker wat verkies om anoniem te bly het meer oor hul situasie uitgebrei. “Die impak is groot, ons kan nie altyd die kragopwekker aansit, want dit kos omtrent R300 vir 2½-uur om dit aan te hou, so dit kom neer op ’n klomp ekstra onkoste.
“Ons kan tydens beurtkrag nie hare droogblaas, so baie van ons kliënte wat gewoonlik inkom vir ’n knip en droogblaas, kan wel dan knip, maar die hare kan nie geblaas word nie. Sommige kere kanselleer van hierdie kliënte hul afsprake. Ons afsprake moet ons ook volgens die beurtkrag-skedule skeduleer.”
Nóg ’n kleinbesigheid in Gordonsbaai, wat nadelig geraak word is Bay laundry, droogskoonmakers wat weens beurtkrag ‘n groot agterstand in hul werkslading ervaar. Fatiema Wood, van die droogskoonmakers sê die huidige beurtkrag-skedule laat hulle met ’n totaal van net 4 ure per dag om alles gedoen te kry.
“Met die groot agterstand kan ons ook nie nuwe werk inneem want ons moet die volgende dag die vorige dag se werk probeer afhandel. Beurtkrag is vir ons erger as die tyd met Kovid-19.” Die ander nadelige impak is wasgoed wat nie op tyd gestryk kan word.
Sy is van mening dat in hul geval sal ’n gewone kragopwekker te duur (met hoë brandstofpryse) en onprakties wees omdat dit net een masjien sal kan opwek. “Dit gaan nie die moeite werd wees en vir klein besighede is dit nie ’n plan.”
Ná die uitreik van vele persverklarings aangaande die kommerwekende kwessie van beurtkrag vandeesmaand, het Eskom in hul jongste verklaring op Saterdag 9 Julie uitgereik, bekendgemaak dat beurtkrag sal voortgaan hierdie week weens die verlies van vyf groot kragopwekkende-eenhede asook die vertraging in die terugkeer van vyf eenhede tot diens.
“Soos die kragopwekkingskapasiteit tekorte oor die volgende week duur, sal beurtkrag voortgaan en in verskillende fases geimplimenteer word. Eskom waarsku die publiek dat dit ’n paar weke sal duur vir die herstel van die kragopwekkingstelsel,” het die kragvoorsiener in die jongste verklaring gesê.