Die Angels of Hope, ’n plaaslike nie-regerings organisasie in Wellington het vanjaar ’n bedrywige, dog baie opvoedkundige Jeugmaand beleef en vele van hierdie ervaringe het by die Taalmuseum in Paarl geskied.
Karel Dampies, voorsitter en stigter van die organisasie deel mee dat hulle ‘engeltjies’, soos daar na die kinders in hul programme verwys word, aan verskeie aktiwiteite by die Taalmuseum deelgeneem het.
Kinders het tydens Junie deelgeneem aan ’n gedigte skryfwerkswinkel, inheemse speletjies en groepwerk aktiwiteite en die laaste ervaring was hul besoek aan die museum. “Dit het ’n inligtingstoer ingesluit en die kinders was omtrent verbaas om al die huisware en items uit die verlede te sien, hulle het vreeslik ge-oe en ge-aa.
Die 35 kinders op hierdie uitstappie na die museum het dit terdeë geniet. Daar was ook na die tyd speletjies gespeel.
“Daar was omtrent belangstelling in outydse huisware soos die outydse swart strykyster daardie wat jy nog by die steenkoolstoof moes warm maak. Hulle het dit baie interessant gevind,” het mnr. Dampies bekendgemaak.
In inligting verskaf deur Sybrandus Adema, kommunikasiebeampte van die Taalmuseum het verskeie programme tydens Jeugmaand ook ’n werkswinkel oor protespoësie ingesluit. In antwoord oor hoekom Jeugmaand en gemeenskapsopheffing deur middel van opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite juis so belangrike prioriteit vir die Taalmuseum is, het mnr. Adema genoem dit is omdat die deel van hul missie is, en aansluit by hul doel om die personeel en groter gemeenskap te bemagtig.