’n Nuwe Afrikaanse musiek aanbieding, Afrikaans in Styl, sal later vanjaar by die Grandwest Arena in Kaapstad, asook by Time Square, Pretoria, plaasvind.
Vir hierdie twee nuwe vertonings sal drie van die land se beste musikante, Stef Bos, Karen Zoid en Nataniël saam die verhoog betree, elkeen met sy eie konsert-binne-’n-konsert.
Luidens ’n persverklaring uitgereik deur Afrikaans in Styl; kan gehore ’n oorspronklike en ongelooflike musikale program verwag. Onder die musikale leiding van Charl du Plessis word die kollig gedeel met Juan Oosthuizen, kitaar; Henry Steel, kitaar; Brendan Ross, klawers en stem; Werner Spies, bas; Rixi Roman, bas; Peter Auret, tromme; Marlon Green, tromme; n strykorkes; sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert en ’n paar geheel en al onverwagse, onoortreflike stemme en gesigte.
Vir liefhebbers van koorsang, maak twee uitsonderlike kore, elkeen ’n baie spesiale en spesifieke verskyning, in Pretoria, Akustika onder leiding van Christo Burger, en in Kaapstad kan gehore die nuutgestigde Voces Cordis onder leiding van André van der Merwe verwag.
Die Afrikaans in Styl-vertonings sal op Saterdag Augustus 27, by Sunbet Arena, Time Square Pretoria plaasvind en op Saterdag September 3, by die Grand Arena, GrandWest-casino. Besprekings kan aanlyn gedoen word by, www.seatme.co.za