’n Jong planteboer van Wellington is vasberade om op haar unieke manier die wêreld ’n groener plek te maak en terselfdetyd voedelsekerheid in haar plaaslike gemeenskap te help bevorder.
Die 13-jarige Tayla Prince, het sedert kindsbeen in die tuin uitgehelp en vandaar is haar belangstelling geprikkel, soveel so dat sy vandag haar eie saailing-onderneming bedryf.
“Ek sal dit beskryf as ’n besigheid om die omgewing te help, om meer groente en plante in die grond te kry en ook mense te leer hoe hulle na plante moet kyk,” beskryf sy haar onderneming, Tayla’s Seedlings.
Sedert sy haar besigheid twee jaar gelede begin het, sê die jong tuinmaker, is die kerndoel daaragter tweevoudig: om kinders aan tuinmaak, plantegroei en die natuur bloot te stel en hopelik deur hierdie blootstelling, ’n belangstelling vir natuurbewaring aan te spoor.
Tot onlangs, het sy haar onderneming uit hul motorhuis bedryf, maar ’n baie opgewonde Tayla onthul dat sy nou haar eie stukkie grond op Origin-plaas huur, waar haar besigheid nou op ’n groter skaal uitgebrei kan word.
Sy wil graag deur middel van haar onderneming — wat die plant van sade en verkoop van saailinge behels — ’n daadwerklike verskil maak in die lewens van plaaslike behoeftiges.
Die liefdadigheidsaspek van haar onderneming is die skenk van saailinge aan verskeie gemeenskapsorganisasies en instansies. “Ek het vir die Sunfield-tehuis 145 plante geskenk, vir die Silwerkruin-ouetehuis en ek het plante aan die sopkombuis geskenk,” brei sy uit oor van haar mees onlangse skenkings.
Meer as 300 plante is ook onlangs aan die Meghal Hendricks Foundation geskenk, ’n gemeenskapsvoeding organisasie wat ook self groente groei vir hulle voedingskema. “Dit maak my bly om plantjies aan hulle te verskaf sodat hulle die groente kan gebruik vir kos vir ons mense en kinders in Wellington wat swaar kry.”
Maar, tussen al die gemeenskapsuitreike en plantverkope, bly die fisiese saai, natmaak, groei en werkskaf in die grond, vir Tayla die lekkerste deel. “Rissies is my gunsteling ding om te plant, dit is vir my interessant om te sien hoe mooi en gou die saailinge groei en ontwikkel, met al die pragtige verskillende kleure.”
Sy lag egter uitbundig in antwoord op wat is van die uitdagendse plante om te groei? “Defnitief uie, dít is baie moeilik. Hulle vat baie lank om te ontkiem en benodig baie aandag en moet baie hitte kry,” verklap sy meer oor hierdie moeisame groeiproses.
Alhoewel haar liefde vir tuinmaak voorkeur geniet, stel sy belang in ’n mediese loopbaanrigting. “Ek wil studeer vir ’n huisdokter om mense te help met siektes.”
Maar, selfs as dokter is haar droom nogtans om eendag haar eie eiesoortige kwekery in haar vrye tyd te bedryf.
“Ek wil eendag ’n toweragtige kwekery oopmaak vol skoenlappers, kabouters en feetjies waar kinders kan speel terwyl hul ouers na my plante kyk.”
Tayla is reeds baie bedrywig in die tuin, maar het onlangs haar onderneming meer digitaal aangepas. Sy het begin instruksionele videos op haar Facebook-blad oplaai, waar sy haar meer as 700-volgelinge leer hoe om verskillende sade te plant en groei.
Haar ma, Bronwyn beskryf haar as ’n hardwerkende en baie doelgerigte kind. “Aan die begin was dinge maar stadig, min mense het geweet van haar besigheid, maar sy het net daarmee aangehou en ons is nou verskriklik trots op haar. Dis wonderlik om ’n kind in die tuin te hê en nie voor die televisie nie.” Sy noem ook hoe die buitelug en stilte in die tuin, ’n kalmerende effek op haar dogter het.
Vir Tayla is dit belangrik dat jongmense leer hoe om hul eie groente te groei en sy bied nou aan plaaslike skole die kans om juis daardie vaardighede te oefen, deur in te skryf vir haar 2022 Groentetuin-uitdaging.
Die uitdaging bied aan vyf laerskole kans om saailinge te koop, dit by die skool te groei en na twee maande te oes. “Daar is baie lekker pryse op die spel en alles wat skole kweek, kan hulle hou.”
Volgens Tayla is die doel van die uitdaging om kinders buite in die natuur te kry en weg van al die tegnologie. Skole moet teen hierdie Vrydag, Junie 24, inskryf. Die uitdaging sal na die vakansie aan die begin van die derde kwartaal begin.
Laerskole in Paarl en Wellington-omgewing word uitgenooi om in die skryf deur vir Tayla ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 087 791 5907 of e-pos na taylaseedling@gmail.com