Espe Tredoux, Strand
Ek was in 1952, as 8-jarige seuntjie, saam met my ouers en suster, by die Van Riebeeck Fees in Kaapstad.
Gedurende die fees het ons iewers by ’n winkel (ek dink dit was in Parow) die twee model elektriese treine gesien, die Blou Trein en die Orange Express. My Pa het die Blou Trein teen ±£12 vir my gekoop!
Op daardie stadium het ons op Loxton in die Karoo gewoon.
Die spore van die trein (twee waarop die wiele van die trein geloop het en een in die middel) waarop die koper kontakpunte onderaan die trein geskuur het en waardeur die elektrisiteit vanaf die “control box” na die “enjin” binne-in die kolewa gevloei het, sodat die trein (lokomotief, kolewa, blou passasiers- en guard van-waens) vorentoe en agtertoe kon ry, die voorlig op die lokomotief kon brand en die trein kon fluit, was op ’n groot houtbord gemonteer, sodat die “drywer” in die middel kon sit/staan en die trein beheer.
Die trein se lokomotief en kolewa was van yster gemaak en baie swaar.
Deur die betrokke sleutel op die “control box” te druk, kon die waens se elektriese hake oop en toe gaan (soos die treinwaens vandag nog gebruik), om die waens as geheel van die kolewa te ontkoppel of koppel óf die waens individueel te ontkoppel of koppel. Dit was regtig iets besonders.
Soos dit maar met kinders gaan, was die spelery nie net tot ons kinders beperk nie, maar al die maats het óók gekom speel en dit het soms wild gegaan.
Boonop het ons as gesin feitlik elke jaar elders heen verhuis en alles het daartoe bygedra dat daar brekasies was wat nié in Suid-Afrika herstel kon word nie, óf van die items het weggeraak.
Die gevolg was dat ek teen 1961 met nét die swart lokomotief as aandenking gelaat was.
Toe ek en my gesin egter in Augustus 1980 vanaf Ceres na Clanwilliam verhuis het, was daar baie min plek vir al ons huisgoed en, glo dit as jy wil, besluit ek toe om dié lokomotief weg te gooi.
Die afgelope sowat 35 jaar het ek verskeie pogings aangewend om, al is dit net ’n foto van die model elektriese Blou Trein, te bekom, sodat ek vir my kinders, vriende en die verskillende model trein klubs kan wys waarvan ek praat.
In die hoop dat iemand op Ceres dié lokomotief “opgetel” het en nog bewaar het; het ek reeds op 13 April ’n berig in die Witzenberg Herald geplaas, dog sonder sukses.
Die “Model Trade Association of Great Britain”, wat die spesifieke model elektriese treine gebou het, bestaan al lankal nie meer nie en navrae by die klubs in Engeland, Duitsland en Italië het niks opgelewer nie.
Die laaste hoop wat ek * óú het is dat iemand in die Kaap-omgewing óf elders, ook een van dié elektriese treine gekoop het en dit nog besit.
As jy kan help, bel my op 071 681 7221 of stuur ’n e-pos na espetredoux@gmail.com