Koos Swart, Somerset-Wes
Ek ondersteun die sentimente wat in die afgelope twee Bolanders uitgespreek is oor katte wat chaos veroorsaak in woonkomplekse.
Ons was die afgelope drie jaar bevoorreg om twee dikkoppe te hê wat in ons voortuin kom broei het. Die voëls was baie mak en het ons tot twee meter van hulle af toegelaat voordat hulle onrustig geword het.
Stappers in ons kompleks het elke middag ’n oomblik vertoef om die voëls te bewonder wat roerloos gestaan het.
Verlede jaar het hulle een kuiken grootgemaak en verdwyn sodra die kuiken kon vlieg.
Vanjaar het altwee hulle eiertjies op 13 November uitgebroei en die wyfie het die donserige kleintjies getrou onder haar warm gehou of teen die son beskerm.
Sondagnag, 18 November het ons ’n groot lawaai by die voëls gehoor en die volgende oggend was hulle skoonveld.
Die enigste verklaring hiervoor was dat een van die baie katte wat ons kompleks dag en nag patroleer, die kuikens gevang het en dat die ouers ons verlaat het.
Eienaars van katte in woonhuiskomplekse behoort beter beheer oor hulle diere uit te oefen.