Op Vrydag 5 April, stel Luna Paige twee enkelsnitte bekend. Aanhangers kan uitsien na die bekendstelling van haar Afrikaanse nuutskepping Dis die dors en haar onlangse Engelse nuutskepping Rather be alone than alone in love.
Die bekendstelling van die twee enkelsnitte dien as voorlooper tot die bekendstelling van twee nuwe vollengte albums, en op Vrydag 12 April 2024 sal beide haar Afrikaanse én Engelse albums aanlyn bekendgestel word.
Dit is die eerste keer in 10 jaar wat Paige ’n nuwe solo album bekendstel. Sy het die snit Dis die dors as titelsnit vir die album gekies omdat sy glo dié lied vang die essensie van die album vas.
Harmony is Luna se vyfde Engelse solo album. Dit is geskoor op die filosofieë van Plato en Heroclitus, en speel met die tema van teenoorgesteldes: lig, donker, goed, sleg, heel- en gebrokenheid.
Waar Dis die dors introspektief handel oor die mens vs natuur, handel “Harmony” oor die mens in verhouding tot ander mense – “…Oor ons verhoudings met mekaar én met die wyer samelewing”, meen Paige.
Die musiek is ’n eklektiese mengelmoes van invloede uit verskeie genres soos folk, pop, blues, wêreldmusiek, ska/reggae, gypsy musiek en rock.
Met Mauritz Lotz op kitaar, Schalk Joubert op baskitaar, Kevin Gibson speel die dromme, Blake Hellaby op klawers, Tim Welsh op saksofoon en Petrus de Beer op viool. Daar sal ook ’n paar gaskunstenaars wees.
Op Vrydag 5 April is die bekendstelliing by Drostdy Theatre, Stellenbosch. Deure open om 7nm, en die konsert begin om 8.15nm. Kaartjieprys is R195 by Webtickets.