Die afgelope naweek, vanaf Vrydag Maart 26 tot Saterdag Maart 27, kon netbalfluitjies en vrolike stemme op die skoolterrein en in Parel Valleiweg gehoor word.
‘n Netbalkliniek is aangebied deur Elize Kotzé, voormalige Protea-afrigter, en haar assistent, Lizel van der Walt. Elize het alreeds twee jaar lank haar kennis en ervaring by PV ingeploeg.
Vrydag is die kliniek afgeskop met juniors (onder-14 en onder-15-groepe). Demonstrasies is aangebied en die dogters het verskeie nuwe vaardighede aangeleer en ingeoefen.
Saterdag se sessie het met die seniors (onder-16 tot onder-18-groepe) begin. Gevorderde oefeninge is aangeleer en spelers kon hul vrae direk aan Elize stel.
Om 10vm het die juniors ook aangesluit en oud-PV-netbalspelers het vrylik hulle tyd afgestaan om op te tree as fasiliteerders vir ‘n spanbousessie.
Motiveringspraatjies is ook gelewer en die spelers is op elke terrein voorberei vir die nuwe seisoen wat wag.
Verdere gespesialiseerde afrigting is ook gegee aan spelers in doelposisies deur Claudia Jarrod wat deel was van die Matie- en Stingspan, asook die onder-21-Protea-oefengroep.
PV se netbalafrigters het ook die afrigtingskliniek bygewoon en het waardevolle afrigtingswenke van die spesialisafrigters ontvang.