Gereelde lesers van Bolander sal onthou dat ek ’n sagte plekkie vir ’n lieflike dorpie tussen Stellenbosch en Franschhoek het, en al ’n paar maal daaroor in hierdie rubriek geskryf het.
Einde laasjaar maak Matthew Cyster, oud-skoolhoof wat al jare lank ’n voorslag-organiseerder en kultuurmens duisend is, weer kontak. Hy wil graag met my gesels oor iets. Ons maak planne, maar ek moes twee maal uitstel.
Verlede Vrydag ry ek oplaas na Pniël en wag vir hom in die lieflike groen Teetuin, gesels solank met die personeel en verlustig my aan die omgewing. Nie lank nie, toe daag Mnr. Cyster op en hy vertel my dat Pniël ’n boekfees ter ere van oorlede prof. Adam Small gaan aanbied, wat in Februarie sal plaasvind.
Die fees sal deur prof. Daryl David, ’n bekende in die boekewêreld gereël word. Hy is ’n begeesterde en kreatiewe boekliefhebber wat al etlike sulke feeste aangebied het, onder andere twee waaroor ek al geskryf het: die Boekbedonnerd fees (Richmond) en die Breytenbachfees (Montagu).
Ek is bly dat Pniël ook nou ’n fees gaan hê, want meeste dorpe het al feeste en dis al bewys dat dit goed is vir besigheid in die dorp, en natuurlik vir die kweek van ’n leeskultuur. Mnr. Cyster sê my die plaaslike biblioteek is goed toegerus en word ook uitstekend bedryf en ondersteun, wat my hart verbly – deur lees brei ons kennis en kultuur uit en dit maak van ons burgers ingeligte, verantwoordelike kiesers.
En dít is noodsaaklik om demokrasie en ’n gesonde samelewing te kan ontwikkel. Nee, jinne, ek kon nie beter nuus kry as oor hierdie nuwe fees nie.
Boekliefhebbers sal weet van die Stellenbosse Woordfees in Maart, my gunsteling fees, en Kaapstad het natuurlik die Suidoosterfees wat van April tot Meimaand loop.
En later vanjaar, in September, is dit tyd vir die Open Book Festival óók daar. Franschhoek se Literary Festival is altyd in Mei, en Philadelphia se Malle Meule Boekbazaar wat gewoonlik in Augustus plaasvind, het ek verlede jaar bygewoon, asook die Breytenbach-fees in Julie in Montagu.
Die plaaslike bibliofiel en die skrywer het veel om na uit te sien en in ander provinsies is daar ook baie feeste; die KKNK, Innibos, Oppikoppi, Boekejol, die Vrystaatfees, Grahamstad se National Arts Festival … en nou ook Pniël. Skitterend. Nog een vir die Boland.
Ons gesels verder oor die fees, en Mnr. Cyster sê daar gaan groot name wees, soos proff. Etienne le Roux, Breyten Breytenbach en Matilda Burden, almal bekende Bolanders. Ek sal ook daar wees om verslag te doen vir Bolander en om oor my roman
Een teen Adamastor te praat, wat oor slawehandel gaan: afgespreek, Mnr. Cyster, afgespreek.
Hierna stap ons deur die netjiese, goed versorgde dorpsmuseum, wat sedert my vorige besoek nuwe artefakte, soos in die in die sportkamer, ’n kunsuitsalling deur die beeldhouer Marinda du Toit, en ’n genealogiese uitstalling bygekry het.
Ek kan sien dat dit na aan Mnr. Cyster se hart lê – hierdie man wat Pniël hartstogtelik liefhet – en hy sê ook hy wil graag meer uitvind oor sy eie familie, hoe kan hy maak?
Ek gee hom die adres van ’n oud-kollega by die staatsargief in Kaapstad. Toe ek uitstap, sê hy dat die herkoms van Pniël se inwoners vir hulle baie belangrik is.
Een onlangse besoeker aan die museum, ’n jong man, het verklaar dat dit ’n groot indruk op hom gemaak het. Sy woorde was: “Nou glo ek in myself.”
Die museum se leuse is “Tribute to our past. Light for our future.” Inderdaad. Die woord “ons” kom twee maal daarin voor. Dit gaan oor die gemeenskap, altyd.
Ek verlaat die gebou wat al in die laat 1700s opgerig is, loop uit na die boomryke Werf met sy monumente; die Slawemonument (in 1993 opgerig), die Slaweklok en die Ubuntu-Monument kan van die hoofstraat af gesien word, terwyl die kerkgebou in die agtergrond pryk, afgeëts teen die grysblou pieke ’n herinnering aan die dorp se ontstaan is en daaroor waghou, al sedert die middel-1800s.
En soos altyd vertrek ek stadig en traag om hierdie eiland van harmonie en rustigheid te verlaat. Darem net eers tot later in Februariemaand.
Die museum is elke dag behalwe Maandae oop.
Die teetuin is daagliks oop, van 10vm tot 5nm.
Die webwerf kan besoek word by www.pniel.co.za of skakel 021 885 2645.