Klein stegie. Groot storie…

Eugéne Nielen Marais

Weggesteek tussen die twee oudste stegies in die Paarl middedorp tussen Rozenfontein Row (oorspronklik bekend as Lawaaimaakstraat) en Tempelierstraat lê ’n skatkis vol historiese erfenis wat wag om sy storie met die Boland te deel.

Ingemessel tussen die klei en klip van die ou geboutjie ontvou die storie van Paarl Public School for Boys en iemand wat hier vanaf 1884 tot 1887 skoolgegaan het, naamlik Eugéne Nielen Marais, bekende digter, natuurwetenskaplike, joernalis, skrywer en advokaat.

Dit is juis hier in die Paarl waar Marais onder andere sy eerste inspirasie vir poësie gekry het

Ek stap ’n draai om die skooltjie in die ruim agterwerf van die Zomerlust Gastehuis en vinnig besef ek hoe van die pragtige geboue in hul oorspronklike vorm behoue gebly het.

By nadere ondersoek is dit duidelik (sou ek bevind) dat dit die bes bewaarde plek in Suid-Afrika sou wees waar hierdie merkwaardige man sy voetspore gelaat het.

Dit maak dus sin dat sy nalatenskap hier vereer sal word en vir toekomstige gebruik ingerig word.

Ek word onmiddellik reggestel: “dit gaan nie hier bloot om heldeverering nie”.

Ek luister aandagtig terwyl die mense betrokke by hierdie inisiatief hul reis met my deel.

Die motivering vir die gedagte van die behoud van Eugène Marais se nalatenskap is aan die een kant hierdie unieke perseel en aan die ander kant die visie van ’n Marais navorser.

Die gedagte kom al ’n lang pad (sedert 2009). Hierdie sinergie het stadig maar seker gestalte aangeneem en staan tans bekend as Die Eugène Marais Stigting.

Vandag is die stigting veel meer as ’n perseel en ’n navorser. Dit het na jare se konsultasie en oorweging formeel tot stand gekom met Dr Niël du Toit as voorsitter.

Dr Johann Lodewyk Marais, Dr Piet van Staden, Heini Kotze en ek is permanent betrokke by die stigting. Sedert die begin van die beplanning is die idee sterk ondersteun deur insette van Zomerlust Gastehuis, die regsfirma Faure & Faure asook die rekenmeesters, BoshofVisser.

Die aanvanklike gedagte van ’n terrein wat bloot Marais se nalatenskap moes bewaar het mettertyd ’n meer omvattende en gestruktureerde dimensie aangeneem.

Die uiteindelike doelwit van die stigting is om nou die terrein in te rig as ’n sentrum waar Marais se nalatenskap ten volle gehuisves en uitgebou kan word.

Dr Du Toit som dit so op: “Dit sal gepaardgaan met die gedagte dat die Stigting skeppend sal bydra tot die kulturele landskap deur navorsing te stimuleer en skakeling te fasiliteer op die terrein van literatuur, wetenskap en aktuele aangeleenthede, in voortsetting van die uitnemende, innoverende prestasies en nalatenskap van Eugène Marais.”

Daar is reeds ’n ooreenkoms aangegaan met Die Erfennisstigting met die oog op die verklaring van die terrein as ’n erfenisterrein.

Die Erfenisstigting meen die terrein het beslis belang vir die Paarl en die Wes-Kaap.

Met die belang van die HJS daarby en spesifiek met die bydraes van Eugène N Marais het die terrein beslis ook internasionale status.

Die Paarlse argitek Maryna Pretorius en die Paarlse bouers, JJ Dempers, werk aan die beplanning van die geskiedkundige geboue om ’n inkomste genererende entiteit te wees, akkommodasie vir skrywers te bied asook die inrigting van kantoor- en uitstallingsruimtes.

Die stigting beskik oor navorsingmateriaal, artefakte, ongepubliseerde foto’s en meer as 400 boeke wat verband hou met Eugène Marais.

Ek was bevoorreg om onlangs ’n Coert Steynberg-borsbeeld van Marais aan die HJS vir tydelike gebruik te oorhandig met die opening van die nuwe HJS Museum Paarl.

Ek hoop en vertou dat ons eie argief mettertyd deur skenkings aangevul sal word.

Die gedagte is dat die perseel op die huidige Zomerlust Gastehuis-terrein uiteindelik sal bekend staan as die Eugène Marais Kampus met verwysing na die navorsing en interaksie wat die stigting daar sal stimuleer.

Die stigting het tot dusver meer as 40 temas geïdentifiseer waartoe Marais betekenisvolle bydraes gemaak het.

Hierdie temas bied die moontlikheid vir die hervertolking van Marais se interessante en intellektuele bydraes tot hedendaagse diskoers.

Van hierdie temas is reeds aangebied as deel van ons gespreksreekse asook slypskole vir skoliere.

Hier moet ek my dank betoon aan Dr Rina Steyn vir haar waardevolle insette en ondersteuning.

Die stigting het reeds twee gedenklesings aangebied. Die laaste gedenklesing in Pretoria het gepaard gegaan met die voordrag van gedigte asook musiek bestaande uit toonsettings van Marais se werk.

Die stigting se eerste elektroniese tydskrif, die Termiet, het ook onlangs die lig gesien. Dit sal gratis as ’n kwartaalblad aan intekenaars gestuur word. Ek werk tans aan ons teenwoordigheid op meer sosiale mediakanale.

Aangesien die Eugène Marais Stigting geregistreer is as ’n maat-skappy sonder winsoogmerk, is bydraes en donasies van enige aard welkom.

Die Boland het ’n unieke geleentheid om deel te neem aan die uitbreiding en opbou van ’n besondere fasiliteit wat hom besig hou met die voortbou van ons kulturele geskiedenis.

Met hierdie doel voor oë behoort alle belanghebbendes saam te staan om hierdie ideaal opgedra aan een van die HJS en die Paarl se grootste seuns ’n sukses te maak.

Vir meer inligting kan Bolander lesers my kontak by 076 451 9262 of nicolette@eugene-marais.org.za