Taalmonument vereer skrywers van nuwe Arabies-Afrikaanse werke

Naaswenner Tasneem Chilwan se werk.

Ter ere van Arabies-Afrikaans se bydrae tot die wording van Afrikaans, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) verheug om die top-twaalf-inskrywings van die instelling se jongste skryfkompetisie uit te stal.

As deel van die ATM se 45ste verjaardag in 2020 het hulle ʼn kompetisie geloods waardeur Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese (Arabies soos aangepas om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee) skrif getranslitereer kon word.

Naas dié van die wenner, Gasan Kriel, asook die twee naaswenners, Mogamat Alexander en Tasneem Chilwan, is die inskrywings van Albrecht Beer, Faheem Rhoda Jackson, Fuad Peters, Luqmaan Mohamed, MF Gamieldien, Mogamat Armien Slamang, Naeema Fredericks, Stefan Abdoer-Ragmaan Lombard en Uzair Ben Ebrahim uit oor die 40 tekste gekies om in die Groen Galery uitgestal word waar die Romeinse en Arabiese tekste langs mekaar verskyn.

Die positiewe reaksie en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Boonop is van inskrywings vanuit lande soos Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang, wat werklik ʼn pluimpie vir die ATM se internasionale aanlyn-teenwoordigheid is.

In Desember 2020 is die top-drie nuwe Arabies-Afrikaanse werke deur die Historium Trust met R10 000 beloon vir hul uitstaande bydrae tot hierdie unieke skryftradisie.

Ter ere van Versoeningsmaand en die afskaffing van slawerny is ʼn geselligheid in die Paarl gehou waar die drie skrywers pryse ontvang het en Professor Hein Willemse, redakteur van Die Afrikaans van die Kaapse Moslem’, ʼn kort lesing lewer het.

Arabies-Afrikaans word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer.

Hieronder tel voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur, en daar word vermoed dat heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit is.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van die instelling om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier.

“Daarom moedig ons mense aan om ook op hierdie manier hul deelname aan die taal te herbevestig,” sê hy.

“In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies- Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”

Mnr Jonas sê die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.

Die beoordelaar – Dr. Shamiega Chaudhari, kenner van Arabies en hoof van die Departement van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare – sê dit was ʼn groot eer om hierdie kompetisie te kon beoordeel.

“Dit het my hartsnare geroer dat mense, selfs van heinde en verre, wel daarin belangstel. Ek wil graag ook net vir almal wat ingeskryf het gelukwens. Hoewel hulle nie almal in die wennerskategorie kon wees nie, is hulle wenners in my oë. Dit was werklik baie naelskraap.”

Volgens Mnr Kriel is hy, as ‘n student van Arabies, bly om te sien dat daar erkenning vir die skryftradisie se bydrae tot Afrikaans is. “Arabies-Afrikaans is deel van ons erfenis wat bewaar moet word,” sê hy.

Mnr Chilwan reken die herlewing van Arabies-Afrikaans is opwindend en baie belangrik. “Persoonlik vind ek Arabies-Afrikaans baie interessant, want dit is deel van my familie se herkoms.”

Mnr Alexander sê hy het altyd Arabies-Afrikaanse tekste gelees wat geskryf was voor die bestaan van Afrikaanse spelreëls en grammatika, en voordat Afrikaans as ʼn amptelike taal aanvaar is. “Vir my is dit belangrik dat die skryftradisie behoue bly; dis deel van ons erfenis.”

Die uitstalling in die Taalmonument se tuin duur tot Mei 2021, maar kan aanlyn by www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word, waar vorige uitstallings ook beskikbaar is.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet.

ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

Vir meer inligting oor die opwindende geleenthede soos die Valentynsdae- en Volmaanpieknieks asook aanlynwerkswinkels, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms.

Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte (tans teen 20%-afslag) is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Tot einde Maart 2021 kan alle kinders onder 18 die monument gratis besoek.