’N Digbundel – oor bloeisels en letsels

Hanna van Zyl is in Graad 10 by Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes.

Hanna van Zyl, ’n graad 10-leerder van die Hoërskool Parel Vallei, het in 2018 begin om gedigte te skryf as ’n uitlaatklep vir haar emosies.

Tydens die grendeltyd in April dié jaar het sy besluit om haar droom van ’n eie digbundel te verwesenlik.

Met 55 gedigte, wat reeds geskryf was het sy dit gewaag.

Tale is haar sterkpunt, letters vorm vinnig woorde wat rym binne versreëls, wat dan strofes word en ryk-rou gedigte vorm, wat haar emosies en hart blootlê.

Met haar gedigte, sommige Afrikaans en ander Engels, is sy eerlik oor haar seer, die dinge waarmee sy al moes worstel op die jong ouderdom van 16 jaar, die hoop wat sy gevind het en die toekoms waarop sy hoopvol wag.

Die befondsing vir die digbundel het ook sommer vinnig in plek geval nadat, sy die idee gekry het om haar ma wat ekstra Fisiese Wetenskap-klasse aanlyn gee, te help met die opstel van die lesse.

Die nuwe manier van klasgee in die grendeltyd het ’n groot geleentheid vir haar geskep en sy kon ’n salaris verdien.

Hanna speel ook netbal en sou die jaar op die skooltoer na Engeland gaan, wat toe afgestel is a.g.v. die pandemie.

Min het sy geweet dat sy dié spaargeld vir die toer sou gebruik vir die uitgee van haar eerste digbundel.

Sy wou ook graag illustrasies insluit, maar het nie geweet wie om te kontak in dié verband nie.

Gemeenskaplike vriende het toe vir Hanna vertel van Marian van Wyk, toe nog ’n graad 11-leerder ook by Parel Vallei.

Hanna het daarna vir Marian gekontak, wat dadelik ingestem het, en so is daar visuele lewe gegee aan die gedigte.

Dit was die eerste keer dat albei hierdie Parel Valleiers saam gewerk het aan so ’n projek.

Marian teken al vandat sy kon onthou en sy sal graag eendag ’n argitek wil word.

Sy en haar gesin verhuis binnekort na Nederland, maar sy sê dat sy graag in die toekoms weer saam met Hanna sal wil werk.

Die waagstuk was toe die moeite werd. Dié twee het gewen, met meer as 70 digbundels wat gedruk is.

Hulle kan nou direk bestel word by Hanna by epos hannavz44@gmail.com

Vir Vrouedag, op Sondag 9 Augustus, dra Hanna graag dié gedig op aan elke vrou:

’* vrou

’N vrou is die oase in ’n dorre woestyn

sy is kwesbaar en sag, geweef van satyn

gemaak vanuit die sy van die man van stof

haar hart word bewaar, want haar emosies is grof

sy verlang na die stilte van die hemel se vrede

sy soek deur haar lewe na sin en rede

partykeer is sy ’n dromer wat verdwaal in die stof

haar voete is kaal en haar hande is grof

haar lyf is die heelal wat die melkweg omvou

sy staan by die deur en sy is besig om te rou

’N vrou is ’n meisie opgetel in die stof

op haar lippe speel ’n glimlag van hartseer en lof

Hanna dra haar digbundel op aan haar ma, Karin Kotzé.