Een van die grootste gebeurtenisse in ‘n vrou se lewe, is sekerlik haar troudag. As jong meisie droom sy van hoe haar trourok gaan lyk en as ouer vrou het sy heimwee oor hoe pragtig sy op daardie groot dag gelyk het. Die Stellenbosch Museum nooi vroue uit om, ter herdenking van Nasionale Vrouedag, hul trourok te kom wys met foto’s van die groot dag – en te vertel oor die geskiedenis van die rok wat hulle op hul groot dag gedra het. Die oudste trourok in die museum se versameling dateer uit 1742, ‘n goudkleurige satyn brokaat wat vir die eerste keer deur Sara Christina van Steenwyk gedra is toe sy in 1744 met Eduard Arentz getroud is. Ons wil graag hoor van vroue uit die gemeenskap en sien hoe hul trourok gelyk het. Die geleentheid sal op Saterdag 20 Augustus by Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch gehou word. Indien u graag u trourok wil kom wys of kaartjies wil bespreek vir die geleentheid, kontak vir Debbie Gabriels by 021 887 2937. Links is die Arentz trourok, circa 1742.