Leerlinge het naam gemaak vir Parel Vallei tydens die Universiteit van Kaapstad se Wiskunde-olimpiade, en het die jaar vir die vierde keer ’n derde posisie behaal uit 170 Wes-Kaap skole en 7 399 leerders wat landswyd deelgeneem het.
Anetha Prinsloo, vakhoof van wiskunde by PV, sê: “Dié fantastiese uitslae in die olimpiade oor die afg elope jare heen kan toegeskryf word aan die passie en toewyding waarmee ouer PV-leerders help om die jonges op te lei en die kennis wat hul so vrylik deel met hul mede-Parel Valleiers – tot voordeel van die hele wiskundespan.”
Die Top 10 skole in die jaar se kompetisie was, in volgorde, Rondebosch Boys’ High School, Bishops, Hoërskool Parel Vallei, Westerford High School, Wynberg Boys’ High School, Somerset College, Herschel Girls’ School, Paul Roos Gimnasium, Rustenburg Girls’ High School, en Hoërskool Stellenberg.
Die top olimpiade-presteerders van die Hoërskool Parel Vallei wat goue toekennings behaal het, is Du Toit Spies – algehele eerste plek in Graad 11.
Hy het volpunte behaal, ’n prestasie wat bykans nooit behaal word nie.
Danielle Kleyn is algeheel eerste in Graad 9, en het ook die Diane Tucker trofee gewen as beste dogter in die kompetisie.
Dirk Beukes en Neil Marais behaal ’* tweede plek as span in die graad 9-afdeling.
Reuben van Wyk was algeheel sesde in Graad 9, en Tian Groenewald spog met ’n sewende posisie in Graad 8.