Wie hou nie van speel nie?

Lorenzo Hendricks, museum bestuurder, en Marthie Nel Hauptfleisch.

Wie hou nie van speel nie? En as jy vir R5 jou trein kan laat hardloop van Stellenbosch af al die pad by Worcester verby, gaan stop by die Spookhotel van Matjiesfontein en jou laaste draai by Drie Susters gooi.

Lorenzo Hendricks is die bestuurder by die Speelgoed en Miniatuur Museum in die hartjie van Stellenbosch.

Dis die grootste geheim op die dorp – veral as jy agterkom dat dit reg agter die Stellenbosch 360 se gebou * ê.

Die gebou wat die museum uit bestaan is opsigself ’n stukkie indrukwekkende argitektuur, met neo-klassieke gewels in the tradisionele H-vorm, wat pronk met ’* tradisionele rietdak.

Sodra jy jou eerste tree in die Kaaps-Hollandse gebou gee, weet jy nou is jy Alice in Wonderland, want alles raak miniatuur-klein: binne-vertrekke van tradisionele spasies soos binnekamers en winkels nog van toentertyd.

Dit is egter by die miniatuurtreintjie waar jy jou neus teen die glas wil druk en oopmond staar.

Want nie net is hier ’n miniatuur trein wat ’n draai gooi nie, maar jy sien die hele Kaap in ’n paar meter voor jou afspeel in landskap en detail wat jou asem wegslaan.

Die tein trek weg in Stellenbosch met die bekende Oude Molen treinstasie, soek sy pad verby Kayamandi se informele behuising oor ’n brug met die arme drommel wat van sy fiets af geval het. Betyds vir die Krijthuis.

Verder seil jy verby wingerd, die eerste gewel plaashuis, appelbome al die pad Worcester toe verby die Blokhuis.

Maar nou moet jy jou hoed vashou…

Want die volgende stop is Matjiesfontein se Spookhotel: hier kan jy bly vir middagete, maar definitief nie slaap nie.

Die laaste draai wat die trein maak is by die bergreeks van Drie Susters.

Lorenzo sê: “Ons is hier om die gemeenskap te dien en hulle te vermaak met oudhede wat soveel pret aan oud en jonk verskaf.

“Bring die kleingoed en kom kyk wat steek hulle nog alles weg. Dit is ’n wonderwêreld van plesier.”

Die museum is oop Maandae van 9vm tot 4.30nm, en Saterdae van 9vm tot 2nm. Toegang is R5 vir kinders en R15 vir volwassenes. Kontak 021 882 8861 of stuur ’n epos na manager@stelmus.co.za

Marthie Nel Hauptfleisch het liedjies oor hierdie treintjie geskryf: nog toe hy stukkend was. Die trein is intussen herstel en is nou weer gereed om die gemeenskap te vermaak.