Wat is die waarde van geskiedenis?

Van voortye gepraat (haha), toe ek op universiteit was, het geskiedenis gegaan oor hoofsaaklik politiek.

Sekere periodes, eintlik net momente in die wyer landskap van die verlede, is beklemtoon – en ek weet dat daar mense is, wit en swart, wat met agterdog na die syllabusse van destyds verwys.

Daar is vir ons gelieg, word gesê, ook oor wat verswyg is. Laat ek dit duidelik stel, ek was nooit een vir Grootbroer-manipulasies nie. Was ek wel, sou ek nie vandag hierdie rubriek gekryf het nie, maar iewers by ’n opvoedkundige instelling in my belangrikheid gebaai het, dalk hoof van ’n skool by sê maar Gansbaai, gesteld op my ouerige Mercedes en my kleinerige huispaleis wat my status kastig weerspieël.

Op hierdie tema kan ek voortborduur, maar dis nie die plek vir dermsuitryg nie. Die keuse van vakinhoud sal nooit almal tevrede stel nie, want ons agtergronde en waardestelsels verskil.

Daar is ’n hele spektrum daarvan in hierdie land, veral omdat ons in sarsies hier aangekom het, lank na mekaar in menslike terme gesien.

Menslike terme, want die aarde, die heelal is te oud vir ons om ten volle te verstaan.

Daarom dan ook al die verskillende pogings om dit te probeer doen; soos volke gegroei en in groepies opgebreek het ter wille van hulpbronbenutting en natuurlik ideologiese of godsdienstige verskille – die menslike ego moet bygereken word, kyk maar na ons onlangse verkiesing en die gespook om baasskap – ons sosiale samestelling as tropdiere veroorsaak soveel konflik, ironies juis omdat samesyn ter wille van oorlewing noodsaaklik is.

Die manipulasie waarna ek verwys het is maar altyd daar, en idees oor hoe ons moet leef begin by hoe ons moet dink, en dit begin weer by die buig-die-boompie-terwyl-hy-jonk-is-beginsel: skoolboeke.

Ons wysgere (so wyd as Van Wyk Louw tot Nathan Trantaal) beïnvloed ons ook, sommige meer subtiel as ander.

Maar, terug na geskiedenis, en hier dink ek aan boeke wat onlangs verskyn het, pogings om historiese perspektief te verbreed.

’n Bekende voorbeeld is Die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika onder redaksie van prof. Hermann Giliomee en Bernard Mbenga (Tafelberg, 2007), wat by die oertye begin.

’n Minder bekende voorbeeld van hierdie soort boeke, en dis jammer want dis eweneens ’n treffende boek, is Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag, onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius (Tafelberg, 2012).

Albei hierdie boeke is ook in Engels beskikbaar, en ek hoop mense wil hulle léés. Dit mag nuwe wêrelde vir hulle oopmaak. Wat Pretorius-hulle se boek betref – myne sê nou hier langs my oop – tref dit my dadelik dat die boek óók ’n wye doek beskilder. En ek hou daarvan, want ek het al baie gewonder wat die nut is van al die vakke wat bestaan, elkeen ’n mishopie vir talle klein konings, maar wanneer word al hierdie magdom kennis byeengebring tot nut van die gemeenskap? (Ek sien wel dat univeristeitskususse baie meer interdissiplinêr is as voorheen).

In die Pretorius-boek, hy is 640 bladsye lank, word argeologiese kennis aangewend, wat my ook verbly, want geografie was my ander hoofvak en hoewel die kombinasie met geskiedenis daartoe bygedra het dat ek uit die onderwys is – hoeveel keer moes ek hoor: “Ai, Meneer Verster, as jy maar net ’n taal, selfs L.O. ook kon aanbied …” want by baie skole was die belangstelling in geskied-enis of aardrykskunde te min om my aanstelling te regverdig.

En hier sien ek nou in die nuwe geskiedenisboeke hoe geografie en sustersvakke samebindend deelneem om ons begrip van ons verlede te versterk.

Die Pretoriusboek begin met ’n inleiding waarin genoem word dat die doel van die boek ewewigtigheid en groter vol-ledigheid juis omdat die skaal van ’n destydse witsentriese benadering na ’n strugglegeskiedenisbenadering geswaai het.

En daar is immers soveel méér wat ons in ag moet neem wanneer ons na ons herkoms soek, probeer sin maak van Suid-Afrika vandag.

Inderdaad is dit wat hierdie boek aanbied; ek verwys bv. na die tydlyn wat op bladsy 27 verskyn, waarmee geologiese ontwikkeling aangedui word wat by ongeveer 3 600 miljoen jaar gelede begin en eindig by ons huidige periode wat ongeveer 10 000 jaar gelede in aanvang geneem het.

En of jy die gedeelte oor oermense wil glo en of jy wil glo dat Abraham se nasate wat oor die aarde moes versprei, dit kom daarop neer dat dit wel gebeur het. En hier sit ons vandag en ons kyk mekaar in die oë.

En ek wonder of ons houdings anders sou wees indien ons meer geweet het waarvan ons praat, of ons minder sou kibbel oor wie eerste waar was en eerder op oorlewing sou bekommerd wees.

Sou ons meer lees, sou ons ook die vraag vra wat al baie dikwels deur skoolhoofde, aan my gestel is: wat is die waarde van geskiedenis?