Waneer die aarde brand, verloor ons kultuur én natuur

Die gerestoureerde huis (bladsy 46).

Die verwoestende brande in die Wes-Kaap, sommige bronne beweer dis meer as 800 die afgelope tyd, die uitwissing van plante en diere, huise en besighede, het my ’n boek getiteld Our threatened heritage, deur André Pretorius (selfpublikasie, 1997) van die rak laat haal.

Die voorblad gee my altyd rillings en ek blaai toe na die gedeelte (bladsye 43 tot 47) in die boek wat handel oor ’n plek genaamd De Jonghlaan 10, Paarl. Bo-aan die stuk staan “Reduced to a smouldering shell by an exploding light bulb.”

Hoewel dit die geheim summier weggee oor hoe die pragtige ou huis aan die brand geraak het, is dié sinnetjie vir my steeds ontstellend.

Maar wat is die geskiedenis hier agter? Die skrywer noem dat Pieter Roux dit op 5 Januarie 1797, dus twee jaar na die Britte die Kaap vir die eerste maal ingeneem het, bekom het.

Hy skryf dat dit ’n “substansiële erf” naaste aan die Paarl se Hoof-straat en met die voorkant na Kerkplein was, naby die Strooidakkerk. Nie lank daarna nie, het Abraham de Clerq (wat De Klerk geword het) die eienaarskap oorgeneem.

De Clerq was nie soos ’n mens sou aanneem, ’* Fransman nie, maar ’* “onlangse setlaar uit Holland,” skryf Pretorius. Dit was darem ook al meer as ’n eeu ná die Hugenote hier aangekom het.

Nietemin, De Clerq het in 1793 met Johanna de Villiers, wel van Hugenote-afkoms getrou, en so is die Franse verbintenis wel gemaak, vir wat dit mag werd wees – my eie stammoeder, Magdelena Judith Therond (dis die korrekte spelling), was ook ’* Hugenoot-nasaat, maar ek kan nie sê ek voel werklik opgewonde daaroor nie, want hoekom moet ek?

Die Franse was ook maar net mense soos die Hollanders, en soos die Duitsers, van wie laas-genoemde groep se gene daar volgens navorsing goed 30% in die Afrikaner-bloed is.

Maar so trek die De Clerqs toe op die hoek van die huidige De Jonghlaan en Haarlemstraat in en bou ’n huis. Die agterste taamlik onindrukwekkende gewel bevat eweneens die voorletters van Abraham en Johanna.

Die voorgewel, waarvandaan ’* mens na die Kleindrakensteinberg uitkyk – daar was ’n hoë stoep vir daardie doel aangebring – is die een op die boek se voorblad, ’n imposante neo-klassieke gewel met die datum 1801 daarop. Die voorgewel is dus later aangebring, miskien toe die paartjie geld daarvoor gehad het.

Vreemd egter, is dat die huis, wat eers ’n T-plan gehad het en later (ook in 1801) ’n H-plan, twee kombuise bevat het. Pretorius raai daarvolgens dat Abraham en Johanna van bed en tafel geskei was. Hierdie twee kombuise, terloops, sou in 1993 onderskeidelik on ’n moderne kombuis en ’n familiekamer omskep word.

Die res van die stuk bevat fotos wat die veranderinge in die huis se voorkoms, soos van Kaaps-Hollands, na gedeeltelik Gregoriaans, en ook die restourasie van die huis terug na sy oorspronklike voorkoms uitbeeld – in 1993, wat die vensters, gang en stoep betref.

Binne is veranderings aangebring, soos reeds genoem met die kombuise, asook die dakkamer en voorhuis.

Die gebou, wat die skrywer W.A. de Klerk as een van die belangrikste in die Paarl beskryf is en deur Pretorius as ‘n “voorbeeld van die heel beste in ons volksboukunde,” is in 1979 tot ’n nasionale monument verklaar.

Die skrywer van die bekende boek Cape Dutch Houses and Farms (A.A. Balkema, 1953), C. de Bosdari, het in sy boek na die huis verwys as die een met “moontlik die beste neo-klassieke gewel in die Paarl,” die gewel wat egter met die res van die huis op 23 September 1993 tot ’n roetbesmeerde skelet verbrand het.

En ’n jaar later, sonder magtiging van die destydse Historiese Monumentekommissie gesloop is. Daaroor het W.A. de Klerk geskryf dat dit ’n skandelike aanklag teen die naam van die Paarl is.

Ander kommentators het o.a. verklaar dat daar duidelik veel aangaande bewaring gedoen moet word, soos om die publiek daaroor op te voed.

Hierdie hele boek van 218 bladsye handel oor ou pragtige geboue wat vandag nog net op papier te sien is. Daar is natuurlik baie meer wat nooit gedokumenteer is nie, en daarom is Pretorius se navorsing ’n besonderde waardevolle bydrae tot ons bewarings-ouvre.

Sou iemand nou weer ’n soortgelyke boek saamstel, sal daar talle nuwe inskrywings wees, nie so baie ou gebou nie, maar steeds baie mooies en steeds ’n gevoelige verlies.

Last week the incorrect email address was given for the writer of Apartheid, Britain’s bastard child: the correct one is hlobook@gmail.com