Waardeer opruimers

Johan van Zyl, Gordonsbaai

Hierdie is nie ’n kla-brief oor morsjorse nie _ ek het lankal opgehou om kla-briewe te skryf.

Hierdie is eerder ’n dankie-brief, waarin ek waardering wil betuig aan die opruimers wat voortdurend agter die morsjorse moet skoonmaak.

Sommige van hierdie opruimers word betaal, soos in die geval van goeie munisipale werkers wat hul plig met deeglikheid doen sodat ons mooi Helderbergkom ’n lus vir die oog van ons inwoners kan wees.

Dis nie ’n maklike werk om op te ruim agter morsjorse aan nie _ veel makliker om vullis rond te strooi en die wêreld om jou met rommel te besoedel. Om te mors is ’n luiaard se werk.

Voorbeelde van hoe sommiges te werk gaan om die omgewing te ontsier is legio. Dit kan dalk interessant wees vir ’n projekleier om sulke voorbeelde te bestudeer sodat bekampingsmaatreëls bedink kan word,
maar dit maak mense soos ek net kwaad _ en hartseer.

Ek wil ’n baie spesiale dankie sê vir diegene wat nie ’n loon ontvang om agter morsjorse op te ruim nie _ daardie aktiviste wat nie ’n bemorste plek om hulle kan verdra nie en iets daaromtrent doen.

Nou bedoel ek nie mense wat hul eie huis en hul eie tuin gereeld versorg nie; ek bedoel diegene wat sypaadjies of openbare ruimtes voor of naby hul huis of erf opruim sonder dat iemand hulle betáál om dit te doen.

Ai, sommige Suid-Afrikaners se ongeërgdheid gaan die verstand te bowe.

Kan mens glo daar is dowwe siele wat swart sakke gevul met rommel langs die pad sal uitgooi.

Ek dink nie hulle wonder ooit hoe lank hul gemors daar moet sê voordat iemand, wat onselfsugtig is, dit moet wegwerk nie.

Mense maak hulle soms aan rommelstrooiery skuldig sonder kwaadwilligheid, soos wanneer wheelie-bins sekere dae van die week uitgesit word, oorvol gelaai met los goed, veral op winderige dae. Maar dit is steeds traak-my-nieagtig, onnadenkend, antisosiaal.

Ja, daar is edele skoonmaakpogings oral, sommiges wat uit enkelinge bestaan, maar ook ander waaraan groepe mense in groot kameraderie deelneem.

As ruimte dit toegelaat het, sou ek talle mooi voorbeelde kon opnoem.

Die leser wat nog nie sensitief genoeg geraak het vir die vuil wat oral gestrooi word nie, moet maar asseblief uit sy kar klim en vir ’n verandering voetslaan waar hy of sy wil wees, om die leë bottels, plastieksakke, sigaretboksies en ander onnoembare strooisels voor die voete raak te sien en die onverkwiklikheid daarvan te beleef.

Ja, die wind waai dikwels ons strate en sypaadjies skoon, maar die vraag is: waarheen waai hy dit?

See toe?

Soos reeds genoem, dit gaan nie hier oor die morsjorse nie, maar oor die opruimers, betaald en onbetaald, aan wie ek hierdie dankie-sê-brief in Bolander rig.

Baie, baie dankie.