Waar is Katja?

Katja

Hermien van der Westhuizen, Somerset-Wes

Die trauma van ’n troeteldier wat spoorloos verdwyn.

Ons kat, Katja, 8, het verlede week spoorloos verdwyn vanaf ons huis in Heldervue.

Ons het almal gekontak wat ons kon, oral gesoek en pamflette met haar foto daarop in posbusse in Dombeyastraat en omliggende strate gegooi.

Niemand het laat weet dat hulle haar êrens gewaar het nie.

Ons kom steeds tuis en hoop op ’n wonderwerk. Dis telkens so ’n teleurstelling dat sy nie intussen opgedaag het nie.

Ons wag ook tevergeefs op ’n oproep of SMS. Snags lê ’n mens wakker en wonder waar sy kan wees, wat van haar geword het.

’n Mens raak byna desperaat as jy daaraan dink dat sy dalk êrens beseer kon gewees het en dat ons haar nie betyds kon opspoor nie.

Ons troeteldiere word deel van ons gesin. Hulle is nie maar net diere wat toevallig daar rond is nie. Ons het Katja as baie klein katjie gekry.

Sy het dadelik vir Lady, ons kolliehond (soos Lassie) as pleegma aanvaar en sou by haar slaap en met haar speel asof sy ook ’n kat is.

Ons het vir Katja en Serko, ons husky, vir ’* aantal maande weg van mekaar gehou aangesien ons nie seker was hoe Serko teenoor die nuweling sou optree nie.

Alhoewel Serko nooit lief geraak het vir Katja nie, het hy haar verdra.

Dít sê al baie. Ongelukkig het ons oor die afgelope drie jaar hierdie geliefde honde weens ouderdom verloor.

Intussen het ons ’n jong kolliehond, Lizzie, gekry. Sy en Katja het boesemvriende geword en hulle sou soos kat en hond speel.

Katja sou vir Lizzie uitlok en dan sou hulle mekaar jaag totdat Katja moeg geword het vir die speletjie en dan sou sy net eenvoudig doodstil gaan sit.

Sy was in beheer van hierdie speletjies en hulle het hul gate uit geniet.

Met die koue en nat weer was Katja byna die meeste van die tyd in die huis. Sy het koud gekry en sou die warmste plekke kies om te slaap.

Snags sou sy op die bed spring en haar inwurm totdat sy warm en gerieflik was.

Sy het die afgelope tyd veral daarvan gehou om in my en my dogter se arms te lê.

Vakansies het sy van kleins af saam met ons vakansie gehou op Bettysbaai. Daar was sy dolgelukkig en het sy o.a. bobbejane en slange getrotseer.

Nou staan haar bakkies met kos steeds hier.

Ons wag steeds. Katja was vir ag jaar deel van ons lewens en het ’n belangrike rol daarin gespeel. Sy het vir ons soveel vreugde gegee.

Indien sy op ’n natuurlike manier verdwyn het en dood is, sal ons dit moet leer aanvaar, maar indien iemand vir haar verdwyning verantwoordelik is, is dit ’* ander saak.

Ek wonder of so ’n persoon weet wat die gevolge van so ’n daad is. Niemand het die reg om ’* dier seer te maak nie en niemand het die reg om hierdie hartseer te veroorsaak nie.

Kontak my by 021 855 1786 of 083 477 2516.

Ed’s reply: My heart goes out to you, and I know how it feels to have a missing cat. About nine years ago, my big ginger cat Max went missing for a month, and it was also an icy August, on a farm outside Stellenbosch, and it was an anguished time waiting, and hoping, for him to come home – which he did, as mysteriously as he’d disappeaared. Maximus Enigmaticus: sweet mystery of life, was the title of what I wrote of it at the time.