Paul Roos Gymnasium het tydens die eerste week van Maart, die skool se 157ste verjaarsdag (op 1 Maart) herdenk met ’n week vol spesiale vieringe.
Die betekenisvolle verjaarsdagweek het op Dinsdag Februarie 28, met ’n tradisionele saalbyeenkoms afgeskop waartydens leerlinge deur die rektor en oudleerlinge toegespreek is.
Van dié oudleerlinge was PRG se 1973 hoofseun, Skip Krige, wat saam met die Matrieks van ’73 ’n skoolbesoek afgelê het en ook die seremonie bygewoon het.
Die Voorsitter van die oudskoliere-unie, Mnr Nils Flaatten (1987) het ook ’n spreekbeurt geniet.
Dan was die spesiale gasspreker van die geleentheid, skrywer, joernalis en oudleerder, Pieter du Toit (1997). Sy skryfvaardighede het op skool reeds begin ontwikkel toe hy as redaksielid van Paul Roos se Semper opgetree het.
Na sy studies en betekenisvolle indiensneming by Volksblad (Bloemfontein) en Beeld (Pretoria, Kaapstad en Johannesburg), is mnr. Du Toit, nou as assistant-redakteur by Netwerk 24 aan die stuur van ondersoekende joernalistek.
Die inhoud van sy toespraak het aan PRG-leerlinge ’n blitsprentjie van politieke, ekonomiese en tegnologiese verwikkelinge oor die laaste 30 jaar in Suid-Afrika én die wêreld geskets.
Sy toespraak het geeïndig op die onopgesmukte stand van sake vandag, en hoe Paul Roosers (met goeie bedoeling) hul opvoeding en sterkpunte kan inspan om positiewe veranderinge en oplossings vir Suid-Afrika én die wyer wêreld teweeg te bring.
Ander gebeurtenisse tydens die verjaarsdagweek het die aanbiding van die PRG Leerderbal ingesluit, wat geleentheid bied aan 41 leerlingrade van skole in die omgewing om kennis te maak en hul te verbind tot leierskapontwikkeling vir die jaar.
Die besoek aan, en tradisionele kranslegging by die stigterslede monument deur die PRG-leerlingraad was nog ’n hoogtepunt; dan was die aanbieding van die heel eerste Tiger Wheel & Tyre PRK Kaskar Fundracer op Vrydag Maart 3, ’n opwindende en adrenalien-belaaide toevoeging tot die week se program.
Met die doel om fondse vir die Borg-’n-Paul Rooser fonds in te samel, het registerklasse mekeaar die stryd op die resiesbaan aangesê.
Plaaslike motorhandelaars Suzuki Stellenbosch, NTT Volkswagen Stellenbosch en Rothman’s Autos het almal saam met Tiger Wheel & Tyre as borge van dié spesiale insiatief opgetree.
Plaaslike restaurante en ander besighede soos Gino’s, Casa Cerveza, RocoMamas, Jack’s Bagels, BP Dorpstraat, Eerste Kafeeversameling en die Paul Roos Kwikspar het as prysborge opgetree.
“Tussen die seuns en borge is genoeg fondse ingewin om twee skoolleerders vir ‘n jaar te ondersteun,” het die skool onthul.
Die jaarlikse Verjaarsdagbal het die week afgesluit. Leerlinge van suster-en buurskole is hier genooi om PRG leerlinge na die spoggeleentheid te vergesel.
“’n Tema wat sterk in Paul Roos se 157ste jaar figureer, berus op een van Paul Roos se 7 kernwaardes by name van ‘verantwoordelikheid’. Waar top-gehalte opvoeding geniet word, lê ook verantwoordelikheid om vir die wyer gemeenskap van waarde te wees.
“Paul Roos is trots op sy oudleerders én leerders wat hul tyd inspan om ‘n verskil in die lewens van ander te maak,” het die skool ten slotte verklaar.