’n Oulike video op sosiale media waar ’n juffrou aan ’n verskeidenheid oulike kindergesiggies met ogies vol verwagting vra wat hulle graag vir Kersfees wil hê, het vinnig groot opslae gemaak en die hartsnare van sosiale gebruikers selfs so vêr as in die buiteland aangeraak.
In antwoord op die juffrou se ‘Wat soek jy vir Kersfees?’ vraag het van die leerlinge se antwoorde alledaagse dinge wat baie in bevooregte posisies dalk as vanselfsprekend aanvaar ingesluit.
Een van die leerlinge se kersfeeswens was “Ek soek ’n pennesakkie juffrou” en ander versoeke was dinge soos, “’n sjokolade juffrou”, terwyl nóg ’n kerswens was,“Ek wil ’n koek hê juffrou”.
Onderwyser Nicola Steenkamp, by die Laerskool Brückner De Villiers, in Idasvallei, Stellenbosch het die video verfilm en sê sedert die oplaai daarvan op sosiale media, was die publiek se reaksie oorweldigend.
Die video is deel van die skool se veldtog om kersgeskenke vir die kinders in te samel. ’n Idee wat ontstaan het na aanleiding van hul skoolhoof, Gail Kortjé se eie dade van welwillendheid.
“Ek het al die jare geskenkies vir die leerders gegee vir die skole waar ek was,” het me Kortjé gesê.
Aan Graad 12 leerlinge het sy elke jaar geskenkpakkies opgemaak het en met ’n Bybelteksvers voor die eindeksamen aan hulle gegee en selfs kleuterskole het by haar goedhartigheid gebaat.
Al hierdie uitreikaksies het sy oor die jare uit eie onkoste aangepak, maar vanjaar het sy dit goedgedink om dinge ietwat anders te doen.
“Ek het die idee gekry dat in plaas daarvan om op ander groepe te fokus, waarom dit nie uitbrei na ons eie skool en nie net ’n spesifieke groep nie,” het sy gesê.
Die doel en hoop was om meer mense te betrek, gemeenskaplike ondersteuning te werf en sodoende meer kinderharte te verbly.
Me Steenkamp, wat bemarking by die skool behartig, het hiermee gehelp. “Ek was genader vir die plasing daarvan op sosiale media. Ons het toe besluit om ’n video opname te maak en die kinders uit te vra oor hul verwagtinge, Kersaktiwiteite, asook die ontvang van geskenke en hul wense vir Kersfees.”
Die impak van die video het alle verwagtinge oortref. “Meer as 9 000 mense het ons video gekyk, selfs sover as Ierland het mense ons gekontak om ‘n bydrae te maak,” verklap me Steenkamp oor die gewildheid van die video.
Studente van die Universiteit van Stellenbosch het ook intussen by die skool met donasies opgedaag.
Ná ’n jaar van harde werk glo die skool verdien die kinders ’n bederf.. “Ons is van mening dat ongeag elke leerder se omstandighede, elkeen geregtig is op ‘n klein bietjie geluk wat ons by Bruckner De Villiers vir hulle gun. ‘n Klein geskenk in ‘n kind se lewe sal wonders verrig vir hierdie leerders,” voeg hulle by.
Die publiek kan skenkings van nuwe speelgoed items maak soos poppe, karretjies en ander speelgoed vir die kleintjies van tussen 5 en 9 jaar. Vir ouer kinders in Graad 4 tot 7 kan naelpolitoer, toiletware soos spuitgoed, room, sepies en enige ander ouderdomgepaste geskenk gegee word.
Speelgoedvuurwapens en gewere wat met geweld verbind word sal egter nie aanvaar word.
Die skool versoek ook dat geskenke nie toegedraai word nie omdat hulle juis self die geskenke wil toedraai en sodoende wil dat elke kind die geskikte en gepaste geskenk ontvang.
Alhoewel die skool die geskenkprojek bedryf, is daar seker gemaak dat die ware boodskap van Kersfees nie verlore raak in ’n materialistiese of kommersiële persepsie van Kerstyd nie.
Die skool benadruk dat dit vir hulle prioriteit was om die ware betekenis van Kersfees as herdenking van Christus se geboorte, en ’n tyd van omgee vir jou medemens by die kinders tuis te bring.
Indien die publiek ’n bydrae wil maak, kan geskenke kan by die skool in Hectorstraat 2, Idasvallei, tussen 8vm en 3nm van nou af tot en met Dinsdag 12 Desember afgelaai word. Kontak die skool by 021 886 6329 vir meer inligting.