Veel is misken, maar nog nie vergete

Die Eoan-geselskap se produksie van Deie Fledermaus, 1962.

Toe ek op 14 Julie by die Vrystaatfees was in Bloemfontein, het iets wat daar gebeur het ’n paar herinneringe in my losgemaak.

Nadat ek my bydrae tot die fees afgehandel het – ’n gesprek met die skrywer Rudie van Rensburg voor ongeveer 40 belangstellendes – het ’n vriendelike amptenaar van die Nasionale Afrikaanse letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) my voorgekeer om oor die bykans-vergete, maar fenomenale Arthur Fula te gesels.

Sy wil ’n projek van stapel stuur om mense aan hom bekend te stel, hierdie swart skrywer wat in 1908 in Oos-Londen gebore, wat al in 1954 ’n Afrikaanse roman, Jôhannie giet die beeld (Afrikaanse Pers Boekhandel), gepubliseer het en van wie werke in Duits en Russies vertaal was. Hy is in 1966 oorlede, onbekend en onbemind – sy voorneme “In my pen lê my bestemming” eintlik ironies.

Dit het my aan nog bykans vergete swart kunstenaars en woord-smede laat dink, soos die skilder Ernest Mancoba (1904-2002) en die joernalis Nathaniel “Nat” Nakasa (1937-1965), wat in die buiteland hulle heil moes gaan soek, plaaslik oorskadu deur politiese en kulturele vooroordele, soms ook uit die geledere van hulle eie mense, en hier dink ek veral aan die legendariese Eoan-groep. Eoan-wat?, mag sommige lesers vra, so laat ek vertel.

Gedurende 2016 se Suidoosterfees kon ek ’n filmvertoning by Kunstekaap, nl. Ode aan die Opera-era/ Ode to the Opera era, op 28 April, Isibaya-teater bywoon.

Dié film, deur Lisba Vosloo, was 86 minute lank en elke minuut werd, ’n stuk filmgeskiedenis wat simpatiek dog professioneel saam-gestel is. Niemand wat daar uitgeloop het, het sekerlik níé ’n traan weggepink nie.

Baie wat daar was, het bande met die Groep gehad en heelwat drukkies is uitgedeel en hande is vasgehou. Ek, wat net ’n buitestaander was, en altyd met ’n objektiewe oog probeer waarneem, was ook aangedaan: Hoekom moet politiek altyd alles wat mooi is opneuk?

Om te antwoord op die vraag wie die Eoan Groep was, die volgende: In 1933 het ene Helen Southern-Holt ’n welsyn- en kultuur-organisasie in Distrik Ses gestig.

Dit was die Eoan Groep, wat aanvanklik nie by opera betrokke was nie, maar gefokus het op drama, ballet en dies meer.

Sedert 1943 het ’n Italianer met ’n passie vir opera, Joseph Manca, betrokke geraak as koorleier. Binne 13 jaar het hy die koor in ’n amateur opera-ensemble ontwikkel wat Kaapse gehore betower het met sprankelend vertonings, soos Verdi se La Traviata, in perfek-uitgespreekte Italiaans. So het Mnr. Manca hulle afgerig, eksie-perfeksie, amateurs maar net so goed soos professionele sangers.

Distrik Ses was berug vir swak lewensomstandighede en armoede was algemeen.

Dog, ten spyte van hierdie omstandighede was die kaartjies vir die eerste operavertoning uitver-koop. Agt verdere vertonings het gevolg en Kaapstad was oorrompel, sodat die Eoan naam oor die volgende 20 jaar sinoniem met opera geword het.

Desondanks onthou min mense vandag dié groep se buitengewone geskiedenis, al was die Eoan Groep ’n aktiewe deel van die kulturele lewe van Kaapstad, veral ge-durende die jare 1956 tot 1975.

’n Negatiewe kant was daar ook – weens Suid-Afrika se rassebeleid kon die lede nie by die wit opera en ballet-groepe aansluit nie.

Nog ’n probleem was dat die Eoan Groep algaande uitgebrei het en finansiële uitgawes daarmee saam, en daarom het sommige lede befondsing van die apartheidsregering aanvaar.

Gevolglik het die Eoan Groep polities “gekontamineerd” geraak en teen die laat-70’s het faksies in die bruin gemeenskap hulle as ondersteuners van apartheid bestempel.

In 1975, toe die groep hulle laaste operaseisoen – elke vertoning gewoonlik lank voor die tyd uitverkoop – gehad het, het hulle repertoire 11 operas en drie populêre sangspele (“musicals”) ingesluit. In 1977 het Mnr. Manca afgetree en ’n era het tot ’n einde gekom, hoewel die groep tot 1980 aangegaan het.

In daardie jaar, ironies nogeens, is die lede vir die eerste maal toegelaat om vir Kruik te sing, al het hulle lankal top sangers soos Winifred du Plessis, Sophia Andrews, Lionel Fourie, Joseph Gabriels, Robert Trussell, Vera Gow en Ruth Goodwin opgelewer.

Vir hierdie mense en hulle aanhangers was die Eoan Groep ’n eiland van ontvlugting van ’n onnatuurlike samelewing en ’n geleentheid om hulle in die skoonheid van kuns, die suiwerste mooiheid wat die mens kan skep, te begeef, daarin op te gaan en te wys van watter stoffasie hulle gemaak is.

Vandag, op stemdag 3 Augustus, terwyl ek dit skryf, hoop ek van harte dat ons land die voordele van ware demokrasie aan ons nasate kan bied en nog baie Suid-Afrikaners in die pioniers wat hier genoem is, se spore kan loop – op op hulle deuntjies kan dans en sing.

Naskrif: Bywoners van Welgemeend (in die Tuine, Kaapstad, op H.S. Jan van Riebeeck se gronde) se vorige ope dae – die Kunsuitstalling van werke uit die Kilbournversameling – sal sekerlik bly wees om te verneem dat dit weer sulke tyd is – tot die einde Augustus.