Tergende vrae by Argeologiedag geopper

Van die stoep op Erfurthuis.

Op 28 August was dit weer die jaarlikse samekoms van argeoloë en kollegas van verwante vakdissiplines by Erfurt-huis vir Argeologiedag, wat deur die formidabele Sona Buys en vriende gereën word.

En soos tevore was dit gelaai met voedsel vir die intellek én die maag – laasgenoemde deur Esmé Adriaanse en die bekwame personeel van Erfurthuis voorgesit.

Hierdie keer was die tema aardverwarming, wat ’n vol saal gelok het, en nogmaals was die praatjies deur erkende kenners van natuurwetenskappe.

Relevant? Beslis. Maar ook nie so besonders-vreemd soos ons mag dink nie – klimaatskommelinge gaan immers al vir miljoene jare aan. Bygesê, die kenners erken oor dat niemand regtig weet hoeveel ons bydra tot die feit dat die ysdekke smelt en die ysbere se habitat vernietig word nie.

Konsensus skyn te wees dat koolstofdioksied-uitlatings in die atmosfeer bydra tot die sogenaamde glashuis-effek wat tans aan die gang is.

Die vernaamste rede vir die huidige toename in temperature is nie die mensdom nie, maar die feit dat die aarde se wisselende afstand van die son (weens die eliptiese baan wat die aarde om die son volg) en die inklinasie van die aard-as veroorsaak dat daar kouer en warmer periodes is.

En gedurende die laaste een, twee miljoen jaar was dit meestal warmer as nou – ons beleef eintlik ’n koeler tydperk, glo dit as jy wil!

Dr. Janette Deacon het hieroor gepraat, en prof. Judith Sealy oor argeologiese bewyse wat help om klimaatsinvloede betreffende reënvalsones en seisoenale veranderings in Suider-Afrika te begryp.

Haar werk fokus op die Kaapse kuslyn, waar geweldig baie artefakte letterlik uitgegrawe word. Baie van hulle werk word in die Plettenbergbaai-area gedoen, en sy erken dat nog baie werk gedoen moet word omdat ons steeds min weet oor hoekom sekere ekosisteme verskil.

Soos ek as leek dit verstaan, was diere meestal heelwat groter, selfs net 20 000 jaar gelede – reuse buffels, zebras, blesbokke, ens., en daar was wye grasvlaktes met meer voedsel beskikbaar. Interessant is dat soos die seevlakke periodiek gedaal het en dele van die seebodem ontbloot is (125 000 jaar gelede byvoorbeeld was die seevlak ses meter hoër hier aan die Kaap, terwyl Kaap Agulhas 18 000 jaar gelede 120km in die binneland geleë was), is daar dan baie vrugbare grond was waar gewasse met ’n hoë voedingswaarde gegroei het – waarskynlik hoekom diere ook groter kon wees.

Dan styg die seevlak weer en minder voedsel lei tot kleiner diere wat makliker kan oorleef.

Hier aan die Kaap, sê dr. Lynne Quick, het vuur altyd ’n bepalende rol gespeel – ons weet dat fynbos afhanklik is van brande, en daarna ontkiem nuwe plante – wat my laat dink het aan iemand se opmerking tydens die etenstyd, nl. dat daar binne elke suksesverhaal ook die sade van vernietiging is.

Dit is ook toepaslik op die mensdom se ongekende toename tot dominante spesie en die vernietiging wat ons groot getalle meebring, dalk ook ons eie uiteindelik.

Verder het ek as historikus met belangstelling na die argeoloë geluister, want hulle praat van data insamel oor klimaatstoestande in die voortye, toe daar geen menslike rekord houding was nie. Ons as mense hou altyd rekord, deesdae ook elektronies, en as ’n mens kyk na die registers wat in die eerste sowat een en ’n half eeue van ons formele nedersettings gehou is, kan jy lees wat die temperatuur en windrigting was, reënval en selfs ook of daar veldbrande was en veesiektes. Maar vóór dit? Aikôna.

Argeoloë kyk nie na klimaat nie, maar na omgewings, en die inligting wat hulle versamel kan wel gebruik word om ’n vollediger prentjie van die verlede te kry – en wat ons in die toekoms mag verwag.

Oseanograwe, bioloë, soöloe, argeoloë, klimatoloë, en statistici kan saamwerk om vrae oor klimaatsveranderineg te beantwoord.

Soos dr. Hayley Cawthra, wat oor seevlak-fluktuasies gepraat het dit uitgedruk het, werk geoloë van onder af boontoe en argeloë van bo na onder – iewers sal hulle bymekaar uitkom.

Dit het my nogal gefassineer dat sy beweer dat oseane gewoonlik nie ouer as 180 miljoen jaar bestaan nie, want dan dryf kontinente weer teen mekaar en “maak daardie oseane toe.”

Ook het sy gesê dat mense al vir 160 000 jaar in grotte langs die kus woon, en dat 600 miljoen mense tans binne tien meter van die see af woon. As die seevlak dus styg soos ons verwag, sal daar ’n enorme migrasie moet plaasvind.

Die laaste spreker, dr. Shadreck Chirikure, het oor die antieke beskawings in die omgewing van die huidige Zimababwe gepraat, en interessant was dat hy reken daar het minder as 100 mense in die strukture gewoon het wat vandag die Zimbabwe ruïnes is.

Hy dink ook nie dat die gemeenskap daar en by ander soortgelyke plekke soos Khami en Mapungubwe tot niet is a.g.v. klimaatsveranderinge, soos algemeen aanvaar word nie. Volgens mondelinge oorlewering het mense daar weggetrek weens ’n tekort aan sout.

Maar soos die ander kenners wat ons vergas het, erken hy dat nog baie werk wag voordat ons veel wyser sal wees oor hierdie tergende vraagstukke.

Die aanwesiges het ná middag-ete na die pragtige Boschendal naby Pnië* vertrek, en daar is die dag se verrigtinge vrolik afgesluit.