Stories uit Pniël : Nul per mond

Die pragtige dorpie, Pniel, skuil onder die reuse Simonsberg.

Ek spog nooit oor my braaivermoë nie, want dit is nie iets wat ek ooit op my CV sal sit nie. Gesels en jou glas volskink is meer my lyn van doenighede langs die groot vuur.

Ja nee, daai los ek vir die manne met die spesiale tongs en tools. Ek is ’n slegte voorbeeld van hierdie verskoning om buite te kan drink. En ja, jou glas sal altyd vol van die heel beste Bolandse wyn wees.

Een aand braai ek na ’n dag se inkopies saam met vroulief. Nou soos enige man sal kan getuig, is hierdie aktiwiteit maar ’* noodwendige hekkie om oor te kom. Uiteindelik bevind is ons toe in die nuwe Checkers met ’n leë trollie en ’n lang lys. Genadiglik ken ek die winkel en weet ek hoe om die beste produk teen die beste prys te kies.

Een van die voordele om opgeleide kleinhandelaar te wees. Die inkopies gaan toe redelik gou aangehits deur besondere groot dors. My Winterbriesie moes iewers heen gaan en ek en die trolliejokkie en die vol trollies staan en wag soos apies buite die winkel. Soos apies. Ek kry piepie so groot soos transport os en mik na die publieke geriewe.

Daar gekom sien ek dat mens moet so waar as die wragtig een rand in die gleuf gooi om die deur oop te maak. En dit as jy klaar R2 000 in die sentrum geblaas het. Swetsend krap ek vir die geld en ewe skielik kom daar ’n siel opgespook langs my. Hy vra my saggies vir ’n rand. Hy is wit, bestoppeld, om en by my ouderdom en ek vra hoekom soek hy een rand?

Hy sê: “Want as dit so koud raak buite en dit reë* probeer ek my geluk en sluip hier in vir die nag, meneer. Dan slaap ek langs die toilet tot die eerste customer weer hier inkom. Want dis koud buite.”

Ons staan en piepie langs mekaar. Ek vra hom wat sy naam is? Hy smile en sê: “ Kom ons sê maar Jaco, meneer. Kom ons sê maar Jaco.”

Ek vra: “ En Jaco, sê my, drink jy?” Hy antwoord: “Kom ons sê maar ja, meneer.” Ek sê vir hom dat hy moet vir my wag. Ek stap by die drankwinkel in en sien die stapel luukse handvervaardigde bier van Bavaria. Ek koop twee en wyn en nog bier vir die braai.

Terug by sê maar Jaco gee ek hom die 500ml bier en glip hom ’n rand vir die gleuf.

Later langs my vuur maak ek die bier oop en vat ’n reuse sluk.

My drinkervaring vertel my dat iets is drasties verkeerd met hierdie produk. Ek draai die blerrie blou bottel om en lees die verdoemenis agter op: 0.0 persent. En ek dink iesegrimmigs aan die vergelykenis in die drank trade. Dat alkoholvrye bier maar soos ’n kano vaart is. Net so eintlik.

Dis nat, maar dis ook baie naby aan water. En ek dink aan sê maar Jaco daar alleen in die toilet naby Dorpstraat. En ek dink weer hoe taai die lewe kan wees. Ek gaan gooi vir my ’n groot rooie, sluk daar aan en skuif baie naby aan die vlamme.