Stories uit my Pniël : Die verhaal van Angus en Jaco

Internasionale krieketspeler Hashim Amla gesels met jong spelers van all rasse by die Hashim Amla Cricket Akademie in Westwood Mall, Durban. Voor 1994, sou dit nie kon gebeur het nie.

Onlangs besef ek weer dat alles nie net donker en bitter is hier in ons asemrowende mooi land nie. Kom ek vertel julle ’* ware storie wat nie eers Jeffrey Archer sou kon opdroom nie. Die storie van Angus en Jaco.

Die een sou grootword as ’n blanke en die ander as ’n nie-blanke. Angus woon hier naby my in Pniël en ek ken hom al jare omdat ek krieket teen hom gespeel het.

Hy was ’n ongelooflike wagter van die paaltjies. So ons los maar eers daai deel uit want die skrywer was geensins op sy vlak nie.

Laasweek, na ’n heerlik braai en oor ’n bottel rooiwyn ontbloot die storie homself.

Angus het in die bruin woonbuurt Cloetesville grootgeword en alhoewel sokker sy groot liefde was, het hy briljante krieket gespeel.

Eers het hy gespeel vir Stellenbosch en Distrikte in die ou bruin liga en daarna het hy ook Boland verteenwoordig voor die val van apartheid.

Jy kan jou indink oor sy haat vir die ou stelsel, die wit klubs met hulle geriewe, fondse en uiteindelike geleenthede. Nooit was Coetzenburg of Nuweland hom beskore nie. Aan die ander kant van die dorp het die veel jonger Jaco grootgeword en parkie krieket gespeel en later by die toe wit skool Paul Roos tot groot hoogtes op die ovaal veld gevord. Al twee salig onbewus van mekaar.

Na die val van apartheid het alle klubs teen mekaar begin speel in Stellenbosch. En dit sou dan hier wees waar Van der Stel, die dorpspan, met Pnië* Coronation teen mekaar te staan sou kom.

En ek sou bitterlik graag wou sien toe die lenige en gevaarlike snelbouler die kort buksie van ’n kolwer mekaar, met min liefde te deel, die eerste keer aangegluur het.

Al twee vertel met smaak dat humeure hoog geloop het en dat dit ervarings sou wees wat vir altyd onthou sal word.

Na die tyd sou hulle ’n bier of twee saam geniet het.  Eers toe ek vir Jaco via Facebook moes kontak, want Angus soek bekers vir sy span, het ek besef dat hulle ongelooflike respek vir mekaar het en die goeie dae met smaak onthou.

Natuurlik het die chirps nie agtergebly nie. Hoe dan nou anders? Angus rig deesdae voltyds af en is en is onder andere die trotse afrigter by Pniël Coronation se baie suksesvolle vroue span.

Hulle het laasjaar in die Top 20 Finaal vir Maties op Coetzenburg pak gegee en hoe ironies maar hoe soet moes dit nie vir hierdie nederige man gewees het nie?

Jaco speel skitterende golf en was in November Sun City toe om in die Nedbank toernooi daar te speel. Hy het ook voorverelde jaar splinternuwe skoene aan ’n netbalspan geskenk.

Altwee gentlemen is passievolle Protea ondersteuners en daar is al 13 Protea vroue deur Angus afgerig.

En toe hy die tweede bottel oopmaak stel ek die vraag aan  Angus dat hy en Jaco mekaar nooit sou ontmoet het as dit nie was vir die politiek omwentelinge van die vroeë neëntigs nie, en hy beaam dit met ’* groot glimlag en kyk nadenkend na my.

En ek besef toe eers dat ek nie in sy spoghuis langs die Dwarsrivier sou gesit het en saam met hom rooiwyn gedrink het as dit nie was vir ’* paar oopkoppe nie. Tjorts op almal van hulle.