Op Saterdag Maart 16 kan Stellenbosse musiekliefhebbers uitsien na ’n konsert met Stef Bos en Luna Paige.
Hierdie konsert by die Adam Small Teaterkompleks aangebied om bewussyn te skep rondom die belangrike werk wat Health Promoters in Kayamandi en ander areas doen. Luna Paige, plaaslike sanger en liedjieskrywer, tree as ambassadeur vir dié organisasie op.
Die Health Promoters werk daaraan om inwoners van mindergegoede omgewings op te voed rondom gesondheidskwessies met die doel om die band tussen armoede en siekte te breek.
Die Health Promoters-opvoedingsprogram sorg verder vir die aanleer van nuwe vaardighede wat werklose kliënte nuwe geleenthede in die werkmag bied. Die organisasie is gestig deur ’n Nederlander, Dr Harold E Robles, en word hoofsaaklik deur Nederlanders (Friends of Health Promoters) befonds.
Die doel van die konsert is om plaaslike inwoners met ’n belang in opvoeding, werkskepping en die bevordering van gesondheid uit te nooi om dié organisasie te ondersteun.
Met die sterk Nederlandse bande inaggenome, het dit sin gemaak om Suid-Afrika se gunsteling Nederlander, Stef Bos, te nooi om die gaste met sy roerende musiek te vermaak. Sy lied Papa (1990) het gesorg vir sy suksesvolle toetrede tot die musiekindustrie in Nederland en België.
Stef Bos het in Suid-Afrika bekendheid verwerf vir sy samewerkings met musikante en sangers soos Johannes Kerkorrel, Thandi Klaasen, Hugh Masekela, Koos Kombuis, Faith Kekana, Stella Khumalo, Amanda Strydom, The African Jazz Pioneers en The African Mama’s.
Na verskeie konserte in Suid-Afrika kan Kapenaars uitsien na Stef se laaste optrede voor hy vertrek om by KKNK op te tree, gevolg deur konserte in Nederland en België.
Luna Paige sal ook op dié aand Saterdag, 16 Maart optree en sal ook ’n duet of twee saam met Stef Bos opvoer.
Me Paige is bekend vir haar emotiewe musiek en roerende lirieke, sowel as spogproduksies soos Die Ander Konsert, Korreltjie Kantel, Her Blues, Smeltkroes, Saam (All)een en haar onlangse Storielied Reünie.
Sy werk tans aan die opname van twee nuwe albums (een in Afrikaans én een in Engels) wat op April 5, nasionaal bekendgestel gaan word. Van dié nuwe liedjies sal by die Health Promoters Music Night opgevoer word.
Stef Bos en Luna Paige word begelei deur ‘n span uitmuntende musikante: Anjulie Nock op tjello, Jonno Sweetman op tromme, Leon Albert Oosthuizen op trekklavier, MauritzLotz op kitare en Schalk Joubert op baskitaar.
Deure vir die konsert by die Adam Small Teaterkompleks, Stellenbosch Universiteit Dramadepartement, open om 7.15nm, die konsert begin om 8nm. Daar is ’n kontantkroeg voor die konsert en tydens pouse beskikbaar. Kaartjies kos R295 en is by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/nBVOqj