Staptoer by Muratie op die voetspore van die verlede

Tydens die staptoer vat Alwyn Beetge en Pim Zouteriks ’n blaaskans in die natuurskoonheid van die landgoed.

Lede van die publiek asook die van Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kultuurnetwerk in die Wes-Kaap, het onlangs ’n geskiedenisstaptoer onderneem op die Muratie-wynlandgoed.

Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die kultuurnetwerke in die Suidelike streke het hieroor gesê: “In ’n tyd wat ons erfenis soveel bedreiging en agteruitgang moet trotseer, was Muratie ’n verrykende en inspirerende ervaring – ’n plaas waar erfenis bewaar en vindingryk uitgestal word en die stories van die mense van hierdie plaas nagevors, vertel en onthou word.”

Die wynplaas, in die Knorhoekvallei, buite Stellenbosch, dateer uit 1685. Muratie het volgens, die FAK, ’n ryke geskiedenis van fassinerende mense wat nou verweef is met die ou Kaapse geskiedenis.

Sommer met die instap, sien jy die muur met die name en datums van al die eienaars van Muratie.

Aldus, die verklaring deur die FAK, was ’n Duitse soldaat, Laurens Campher, die eerste persoon wat in 1685 hier begin boer het. Goewerneur Simon van der Stel ken in 1699 Muratie, aanvanklik bekend as De Driesprong, amptelik aan hom toe met die volgende opdrag in die titelakte “bezaayen, beplanten, bepoten, betimmeren”.

Die oorspronklike plaasopstal en groot eikeboom wat Laurens vir sy vrou gebou en geplant het, staan vandag nog op die plaas.

In een van die vertrekke in hierdie opstal word verskillende wyne van die plaas, vernoem na verskillende eienaars van Muratie deur die jare, keurig uitgestal in nissies in die mure. Die oorspronklike titelakte kan ook besigtig word.

Die stappers het deeglik die landgoed verken. In ’n ou wynkelder, vandag ’n proelokaal en restaurant dui talle ou foto’s, skilderye, berigte, briewe en ander artefakte en selfs baie ou spinnerakke op een muur teen die venster hoe nie net geskiedenis nie, maar ook tyd op Muratie bewaar word.

In die restaurant hang skilderye van een van die voormalige eienaars, George Paul Canitz, ’n kunstenaar wat geïnspireer is deur die meesterstukke van die Renaissance era.

Sy dogter, Alberta Annemarie, het die plaas na sy dood oorgeneem en was een van die eerste vroue in Suid-Afrika wat ’n wynplaas besit het en aktief betrokke was by wynmaak.

Die Vryburger en later invloedryke Kaapse grondeienaar, Martin Melck, het Muratie in 1763 gekoop. Sy nageslag het op die plaas geboer tot 1897.

Na bykans 90 jaar keer die Melck-familie in 1987 terug na Muratie, toe ’n direkte afstammeling van Martin Melck, Ronald Melck, die plaas koop. Sedertdien is die plaas in die besit van die Melck-familie.

“Bewusmaking lei tot liefde daarvoor, wat oorgaan tot bewaring en oorvertelling,” sê Juanine Kok, kultuurkoördineerder van die FAK.

Daarom is dit belangrik dat geskiedenis op interessante wyses aan mense oorgedra word, want só sal dit behoue bly.

Om aan te sluit by die kultuurnetwerk in jou gemeenskap, kontak Jaco Cilliers, kultuurnetwerkhoof van die FAK deur ’n e-pos te stuur na jaco@kultuurtuiste.org.za/

In ’n plesierige luim op die roete omring deur die groenigheid van die Stellenbosch-streek is Christianne Mengel en Sisca Habets. Sisca kom vanaf Maastricht Nederland.
Tydens die staproete word die Muratie wynlandgoed se geboue ook besigtig en verken. Hier het stappers gaan inloer by die Muratie-wynkelder.
Van die stappers uit die groep bestudeer hier die geskiedkundige Muratie grondbrief.
Die stappers kan hier op ’n gedeelte van die roete gesien word en die staproete is deur jonk en oud geniet.
Een van die stappers Victor Kessell, kan hier gesien word by die ingang van die Muratie-wynlandgoed.