Nasionale Biblioteekweek word vanjaar landwyd vanaf Maandag Maart 20 tot Sondag Maart 26 gevier.
Vanjaar se tema is “Biblioteke vertel stories met Vonk”.
Strand Biblioteekvriende nooi belangstellendes uit na ’n oggendtee op Donderdag Maart 23, om 10vm waartydens die geliefde stamboomnavorser van die Kaap, Aubrey Springveldt, meer gaan vertel oor die proses om familiegeskiedenis na te vors.
Mnr. Springveldt, is tans te sien in Martelize Brink se DStv VIA program Martelize se stamtafel, waartydens bekendes se “vandaankom” deur hom uitgelê word.
Gratis drasakke, boekmerke en gelukkige boektrekkings sal ook aangebied word. Bring sommer jou agterstallige boeke saam, geen boetes sal gehef word tydens die week nie.
Die Vriende stel ook die spesiale versameling Africana en skaars boeke in die biiblioteek se voorportaal bekend. Dit sal op spesiale versoek beskikbaar wees vir navorsing in die biblioteek.
Kontak die biblioteek by 021 444 3106 om jou sitplek te bespreek. Raadpleeg ook die biblioteek oor spesiale kinderprogramme en uitstallings vir die week.