Danksy die Ultimate Rugby Experience te Nooitgedacht Village Koelenhof, Stellenbosch, word al ons Springbok rugbyhelde tot hul volle glorie vereer.
Diè rugby memorabilia van Theo Geustyn en Choet Visser word hier uitgestal vir besigtiging deur die publiek. Dis die enigste rugbymuseum van die soort in die land.
Theo het sy droom verwesenlik met hierdie baie spesiale projek vanweë sy groot belangstelling tov die bewaring van Springbokrugby, sy passie al van sy jeugjare af.
Sy vrou, Esté, ondersteun hom ten volle en Veronica, Choet se dogter weer, het al haar pa se aandenkings gebring om sodoende ook sy passie te laat voortleef.
Saam deel hul almal in die suksesverhaal van hierdie pragtige uitstalling by Nooitgedacht.
Op negejarige ouderdom het Theo begin om koerantknipsels en fotos uit tydskrifte te versamel.
Sy plakboeke vertel die verhale van verskillende oorsese toere na Suid Afrika, waaronder die eerste die 1967 Franse toerspan was en sekerlik een van diè waardevolste, is die onvergeetlike Britse Leeus van 1974.
Op universiteit het sy vriend, Martiens le Roux, baie gehelp met sy trui-versameling, waarna Gysie Pienaar en Theuns Stofberg ook later bygedra het tot die versameling van rugbytruie.
Iewers in hierdie museum gaan jy beslis een of meer van jou rugbyhelde raakloop, selfs HansieCronje, die krieketheld van weleer word hier vereer.
Theo is, soos Cronje, ook ‘n produk van Grey Kollege in Bloemfontein, waar hierdie rugbymuseum eintlik sy oorsprong gehad het. Dit word ook gereeld deur skoolspanne besoek.
Wat ’n uitstekende platvorm om rugbyliefhebbers se entoesiasme trots tot versadiging te bevredig.
Hier kan die tyd maar stilstaan, want vir ure kan jy vertoef en put uit die uitstallings van die baie verskillende aandenkings van Springbokrugby. Dis soos om op ‘n ontdekkingsreis te gaan.
Soveel herinneringe word weer by jou wakker gemaak en vat jou terug na goeie oomblikke van lank gelede se onthou, op die rugbyvelde van ons land en oor die wêreld.
Letterlik van al Suid-Afrika se rugbyhelde, reg van die twintiger jare af, se aandenkings soos fotos, trofeë, baadjies, truie en nog vele meer word hier in besonderse uitstalrame, soos glaskaste wat oopmaak, ten toon gestel.
Theo het self die uitstalrame teen die mure ontwerp.
Met hierdie uitstallings tussen die vele gange wat jy kan deurstap, skep die sagte vloer-oppervlak ook nog ‘n stil rustige atmosfeer, wat bydra om alles aandagtig in te neem.
Hierdie museum is oor en oor ‘n besoek werd vir alle rugbyliefhebbers en die wonderlike is dat daar geen ingangsfooie gevra word nie, maar wel ‘n bydrae aan die Chris Burger Jackson spelersfonds ten bate van die spelers wat traumatiese beserings tydens wedstryde opgedoen het.
In die Ruck en Maul restaurant kan jy ook tussendeur van die geregte geniet of buite sit onder sambrele, waar kinders op die grasperk baljaar, op klimrame speel of selfs bietjie ‘n rugbybalmkan rondskop.
Groot TV skerms bied gesellige bymekaarkom vir rugbyliefhebbers waar wedstryde gekyk kan word, veral ook nou met die Rugby Wêreldbeker in Japan.
Hierdie plek is ook geskik vir funksies, vergaderings, verjaardae, en jaareindfunksies.
Voornemende besoekers kan “Ultimate Rugby Experience” insleutel op Internet of op inligtingskaarte gaan kyk, wat hul dan van enige rigting sal neem na dié presiese landmerk.
Die museum is daagliks oop van 10vm tot 10nm.
Vir verdere inligting, besoek http://nooitgedachtestate.co.za/rugby/ of kontak vir theo@ultimaterugbyexperience.co.za of 021 010 1910.