“Harde werk, talent, positiewe denke en krag van God.”
Dít als sê Simone van der Merwe (14) is die sleutel tot haar sukses.
Simone het met haar onlangse deelname aan die UIPM Biathle-Triathle Wêreldkampioenskappe, nie minder as ses goue medaljes ingepalm nie.
Die 2022 Tweekamp en Driekamp-kampioenskappe het op Madeira, Portugal op Woensdag 26 Oktober afgeskop en oor 4 dae gestrek.
In haar groen-en-goud, het Simone goue medaljes gewen in verskeie onder-15 kategorieë insluitende die Triathle-gemengde aflos, die Biathle-gemengde aflos, Triathle-individueel, Biathle-individueel, Triathle meisies onder-15 spanmedalje en Biathle meisies se onder-15 spanmedalje.
Dit was haar derde deelname aan dié kampioenskappe en sy kan dus nou haar nuutste prestasies by ’n indrukwekkende lys van medaljes byvoeg. In 2018 het sy vier goue en een silwer medalje in Egipte gewen, en sy het verlede jaar in Duitsland ook twee goue medaljes in die individuele items verower.
Haar ma, Michelle van der Merwe, sê Simone was veral na verlede jaar se kompetisie in Duitsland, goed voorbereid en hierdie deelname het veral haar selfvertroue ’n welkome hupstoot gegee.
Alhoewel, dié sportiewe graad-8 presteerder van Hoër Meisieskool Bloemhof, al vele kere in hierdie uitdagende kampioenskappe haar staal gewys het, was vanjaar se een op ’n veel groter skaal en weerstoestande en natuurlike elemente van die gasheerland, het dit aldus Simone, verder bemoeilik.
“Dit was die grootste wêreldkampioenskappe nog, met meer as 31 lande en 650 deelnemers,” vertel Simone en voeg by hoe die unieke terrein van die eiland die mees uitdagendse deel van die kompetisie was.
“Dik see sand is baie moeilik om op te hardloop en met ’n klomp kort skerp draaie word mense se momentum vinnig gebreek.
“Ook met die groot aantal deelnemers was die wegspring ’n uitdaging. Ek het geval met die Biathle-wegspring en moes toe dus ’n klomp opponente inhardloop, nogal uitdagend in dik sand,” deel sy mee.
Maar, ondanks al die uitdagende eksterne faktore, bly die deelname aan iets so veeleisend soos die Biathle-en Triathle-kampioenskappe, vir haar iets wat sy ten volle geniet. Die vereiste waar al drie van die items (swem, hardloop, laser skiet) op mekaar volg sê sy, dra by tot hierdie genot.
Sy kan ook nie een van die items as ’n gunsteling uitsonder. “Ek hou regtig van almal en die adrenalien van alles wat aaneen gedoen moet word, is wat my laat tick.”
Simone droom groot en toekomstige Olimpiesie Spele is in haar visier. Sy mik om in atletiek of in swem, haar land by dié wêreldberoemde Spele te verteenwoordig.
Haar skool is trots op haar en staan bankvas agter haar om hierdie droom te vervul. “Ons is seker hierdie talentvolle atleet sal haar drome bewaarheid,” het die skool verklaar.
Dié veelvuldige goue medalje wenner is in die wolke met haar nuutste prestasies. Sy voeg ook by dat niks hiervan moontlik sou wees sonder God se hulp.