Dit is nou weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo wat vir die negende jaar aangebied word.
Vanjaar se tema is skepe en deelnemers word aangemoedig om vrye teuels aan dié tema te gee.
Die tema sluit alles verwant aan skepe, van die vaartuig self, tot die seile, kraaines en anker, in.
Verwante woorde soos skeepvaart, handelsvloot, skeepvaartbedryf, seehandel, seevervoer en bote kan ook wind in jou kreatiewe seile blaas.
Buiten vir dié vaartuig self, is die moontlikhede eindeloos om “lewe” aan hierdie tema te gee. Daar is tien kategorieë waarin deelnemers dit kan doen ook.
Inskrywers kan ook verfkwaste of potlode inspan om op ’n doek hul idees vas te vang of skuif agter die kamera in en neem jou beste foto of pen of tik ’n storie oor skepe.
Buiten vir die splinternuwe tema, is daar in 2022 ook twee nuwe windmakerige kategorieë, naamlik lirieke en grafiese ontwerp, waarin jy dié tema kan uitleef.
Die ander kategorieë is: dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, voordrag, fotografie en kuns, wat skilder- en tekenkuns insluit.
Enige persoon ter wêreld van graad R tot en met die ouderdom van 25 wat Afrikaans praat of ’n liefde vir dié taal koester, kan deelneem. Dit sluit alle moedertaal en nie-moedertaalsprekers in.
Gr. R tot 3 kan vir voordrag en kuns inskryf. Gr. 4 tot 5 kan aan fotografie, poësie, voordrag, lirieke en kuns deelneem. Vanaf gr. 6 tot die ope afdeling (tot 25 jaar oud) kan in al tien kategorieë deelneem wat in die handleiding gevind kan word. Jy kan ook vir 2-3 inskrywings by een kategorie inskryf of vir almal.
Wat vanjaar ook anders maak, is dat die publiek uiteindelik vir die algehele wenners sal kan stem.
Alle inskrywings, behalwe die kunswerke, moet aanlyn ingeskryf word by projekte.co.za.
Alle kunswerke moet per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria ingedien word.
Die aanlyn inskrywings se sluitingsdatum is Vrydag 29 Julie 2022.
Die skool met die meeste inskrywings staan die kans om R10 000 te wen. Algehele wenners van gr. R tot 3, asook van gr. 4 tot 7 wen R1 000.
Diegene van gr. 8 tot 9 en 10 tot 12 sal R1 500 wen as hulle die tema die beste beskryf, geteken, geskilder, die beste foto geneem of die beste voordrag gelewer het. In die ope afdeling kan deelnemers R2000 wen.
Esté Cilliers, projekbeamtpe van skoolprojekte by die FAK, het oor die 2022 kompetisie gesê: “Ons is opgewonde oor dié jaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo. Met die tema van skepe lê die wêreld voor jou oop. Laat jou kreatiwiteit op vaart gaan. Dis gratis en jy kan wen. So, hoekom nie deelneem nie?”