“My doel was nooit om dit te doen vir die toekennings nie, maar dit is goed om te weet dat al die bloed, sweet en trane wat mens oor die jare ingesit het – in iets wat eintlik meer van ‘n passie as ‘n werk was – raakgesien word deur jou kollegas en meerderes.”
So sê mnr Derek Swart, skoolhoof van Hoër Jongenskool Paarl of Boishaai, vanjaar se ontvanger van die Nasionale Kader Asmal-toekenning vir lewenslange prestasie.
Mnr Swart is met hierdie toekenning vereer tydens die nasionale onderwys-toekennings aangebied deur die Departement van Basiese Onderwys op Saterdag 5 Oktober in Boksburg.
Volgens mnr Swart is die rol van skoolhoof nie altyd maklik nie en is hierdie toekenning en erkenning op nasionale vlak deur die onderwyssektor, die vrugte van en beloning vir jarelange harde werk en absolute spanwerk. “Ek wil ‘n groot woord van dank rig aan die personeel by Boishaai want sonder hulle toewyding en harde werk sou hierdie prestasie nie moontlik wees nie,” het hy gesê.
Verder het hy ook die Kaapse Wynland Onderwysdistrik, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), asook die nasionale Departement van Basiese Onderwys (DBE) bedank.
In die 17 jaar by Boishaai kon hy sy roeping in die onderwys ten volle uitleef. “Dit is my passie en ek het sedert Graad 8 geweet ek wil in die onderwys wees; dit was iets wat ek nog altyd wou doen, ek glo dit is my lewensdoel.”
Hy beskryf sy toenadering tot skoolbestuur en denkwyse as ietwat onkonvensioneel, met planne, idees en metodes baie keer buite die beperkinge of voortgesette raamwerk van tradisionele metodes.
Hy benader uitdagings met die siening en geloof dat niks onmoontlik is nie, “dinge kan dalk bietjie moeilik wees; maar daar is niks wat nie gedoen kan word nie”.
Dit is met met hierdie vasberade benadering en onwrikbare geloof in die behaal van sukses, dat mnr Swart die leisels van Paarl Boishaai vir soveel jare kon stewig vashou.
“Ek was in die bevoorregte posisie om Boishaai te kon neem van ’n goeie skool na ’n uitstekende skool,” het hy oor sy diensjare hier gesê.
In antwoord op wat hy hoop sy nalatenskap sal wees, sê hy alhoewel sy doelwit en fokus nooit was om ‘n nalatenskap te los nie, hoop hy tog dat sy voorbeeld van die onmoontlike aan te pak en in die proses grense te oorskry en beperkinge uit te daag, as inspirasie vir die leerders sal dien. “Ek glo nie in hierdie beperkte slagspreuke nie, want as jy dit nie uitdaag nie, hoe gaan jy weet waartoe jy werklik in staat is?”
Sy passie en liefde vir die onderwysberoep kon oor die jare nie geblus word nie en hy ag die rol van onderwyser, alhoewel dit soos met die verandering van tye ook getransformeer het as een met ’n belangrike doel.
In sy mening is die rol van onderwyser om te dien as ’n talent ontginner en ontwikkelaar van potensiaal.
“Die rol van ’n onderwyser het in moderne tye drasties verander in die sin dat die kinders nie meer van jou afhanklik is vir kennis nie, maar dat jy eerder die etiese fasiliteerder van kennis is; dat jy na wense vir hulle moet leer hoe gebruik jy daardie kennis wat jy opdoen.”
Hy het nou nie ’n persoonlike slagspreuk vir hom oor die jare toegeëien nie, maar leerders sal hom wel onthou vir een van sy gunsteling aanhalings. “Een waarvoor ek bekend voor is wat ek altyd aan hulle voorhou is, ‘Rig jou lewe so in dat jy ’n positiewe verskil maak in ’n negatiewe wêreld’.”
’n Ander aanhaling wat hulle ook gereeld na verwys en hoop die leerders sal bybly is die gebruik van die rugby term “space dominance” maar by Boishaai verduidelik mnr Swart het die term ‘n ander betekenis verwyderd van die rugbyveld aangeneem. Dit benadruk dat jy ‘n enige spasie wat jy betree in ’n beter toestand moet los as wat jy dit in gevind het.
Sy jare in die onderwys het hom die voorreg gegun om sy passie na hartelus te kan uitleef en sodoende op elke kind se lewe ’n blywende en opbouende indruk te maak. Hy tree einde van die jaar af nadat hy meer as 40 van sy lewensjare aan die beroep toegewy het.
“Die Here beloon jou op ’n manier; en vir my is dit ’n groot voorreg om te kan aanskou hoe ‘n persoon ontwikkel en te weet dat jy ’n integrale deel daarin kan speel en dat die Liewe Vader jou vertrou om te kan deel wees daarvan,” het Mnr Swart ten slotte gesê.
Die skool het in ’n verklaring vir mnr Swart geloof vir sy uitstekende bydrae tot die skool.
“Mnr Swart se onvoorwaardelike aanvaarding van verskillende leerders vanuit verskillende agtergronde, gelowe, en gemeenskappe, is legendaries en het gehelp om enige moontlikheid van diskriminasie by Boishaai uit te roei.
“Mnr Swart was ’n voorbeeld van hoe om balans binne die skoolomgewing te handhaaf, en sodoende te verseker dat alle aspekte van die skoolomgewing, naamlik akademie, kultuur en sport, van ewe belang is,” het die verklaring afgesluit.