Sanlam se kunsversameling: ook kapitalisme het ’n mooi kant

Vriende van Welgemeend and die Boerneefversameling in die Sanlam Kunsgalery, met Stefan Hundt links met die with jurk aan.

Op 20 Julie het die Vriende van Welgemeend en die Boerneefversameling in Bellville byeengekom, om Sanlam se kunsvesameling te besoek.

Hierdie geleentheid is as’t ware ’n voorskou van die Vriende se jaarlikse groot fondsinsamelingsveld- tog, waarin die onlangs-ontslape kunsfundi Stephan Welz vroeër ’n belangrike rol gespeel het.

Hy en Frank en Lizelle Kilbourn van Tamboerskloof, wat nog voortgaan om o.a. van hulle ongelooflike kunswerke by hierdie insamelingsgeleenthede in die Welgemeend-herehuis (Tuine, Kaapstad) beskikbaar te stel.

En op dié dag by Sanlam was Mev Kilbourne ook teenwoordig, asook bekendes in die kuns- en literêre kringe, soos Prof. Chris van der Merwe en sy vrou Biebie, wat veral goeie werk by die Hugenote-vereniging doen.

So sien ’n mens die staatmakers in ons klein erfenisgemeenskap altyd by hierdie geleenthede, en jy wonder of dit dan moontlik is dat so min mense in kultuur belangstel, in die dinge wat die menslike spesie aan die debietkant van sy bra bekrompe balansstaat kan skryf.

Want daar is soveel wat ons breek en besoedel en vermink dat die mooi dinge soveel te meer waar-deer moet word.

Wat, wonder ek, is die rede vir hierdie miniskule groepie uit soveel miljoene, nie net hier nie, maar wêreldwyd, wat wil skep en vereer en bewaar?

Nietemin, dit was met antisipasie van verwondering wat ek na Sanlam se gebou in Voortrekkerweg gery het – ek was al etlike male daar, om die maatskappy se argief te besoek, asook om na hulle museum en kunsgalery te gaan kyk. Sanlam en Santam is in 1918 gestig – baie van die direkteure van Sanlam, Santam en Nasionale Pers het destyds op al drie direksies gedien en hulle foto’s is netjies uitgestal in die aantreklike museum – en hulle eeufeesjaar is naby.

In 2005 het ek en die kurator, Stefan Hundt, ’n aantal van T.O. Honiball se werke daar uitgestal.

Honiball is in 1905 gebore en dit was op die honderdste herdenking van sy geboortedag (7 Desember). Hy was toe al 15 jaar gelede oorlede, in Montagu. Ons het na Port Elizabeth gevlieg om ’n klompie geraamde tekeninge te gaan haal wat Honiball se dogter Marlene aan ons geleen het en toe het ek die geleentheid benut om heelwat oor ons plaaslike kunsgeskiedenis te leer – daar is nie veel daaroor wat Stefan Hundt nie weet nie.

My kennis van ons groot kunstenaars is redelik beperk tot die ou meesters (plus minus voor 1960) en die moderne periode (ongeveer tot 1990).

Van kontemporêre kunstenaars, dus post-1990, weet ek redelik min – ek moet erken, ek verkies die ouer style: Boonzaier, Spilhaus, Naudé, Welz, Pierneef, Laubser, Stern… daarna voel dit vir my asof alles algaande verbrokkel het tot politieke monstrositeite.

En daaroor kon Stefan my dus goed inlig, soos hy ook die besoekers aan die galery ingelig het terwyl ons tussen die kunswerke gestaan het; installasiewerke, skilderye, tekeninge en beeldhouwerke. Baie daarvan het hy self vir Sanlam aangekoop – gedurende die sowat twintig jaar wat hy as kurator (hy het voor dit by merkwaardige Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein gewerk) het hy die versameling tot ongeveer 500 werke wat nou amper R160 miljoen werd is, laat aangroei.

Hy bied ook ’n diens aan beleggers in die kunste en sy diep en uitgebreide kennis is haas onvervangbaar in hierdie bedryf.

Wat my herinner het aan die gesprek wat ek gister met Johan Myburgh van Radio Helderberg gehad het, juis oor die oorgange van eras.

Groot name wat diep spore getrap het op veel terreine ontval ons nou en dra eintlik by tot die “brain drain” wat Suid-Afrika nou al ’n rukkie lank beleef. Die vraag wat ek en Johan gevra het is wie gaan die vakuum vul wat ontstaan as ons gevierde maar bejaarde kenners afsterf? Hieroor sal ek uitbrei wanneer ek aanstons oor Dan Sleigh en sy laaste boek, getiteld 1795 in hierdie rubriek skryf.

Toe ek by Sanlam se hek uitry, met ’n prag-eksemplaar van die genommerde bundel Die Sanlam Kunsversameling, saamgestel deur Evelyn Cohen en in 1993 deur Tafelberg uitgegee, het ek my voorgeneem om nie weer so lank te neem voordat ek weer daar aanland nie.

Soos ek al meermale aangesê is: “Practice what you preach.”