Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Kaasfees skop vanjaar af op Saterdag April 2 en Sondag April 3, op die Warwick-wynlandgoed.
Die kaasfees strek vanjaar oor vier naweke by vier verskillende bestemmings, dus kan feesgangers die agt dae-lange fees, ten volle geniet.
“Die SA Kaasfees is ‘n buitelug-extravaganza wat deur baie ywerige volgelinge oor die afgelope 19 jaar geniet is. Dit is ’n onmiddellike sukses en ’n ware plesier om deel van te wees,” het Tom Orpen, Warwick-landgoed se globale verkoopsbestuurder, gesê.
Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, die organiseerder van die SA Kaasfees sedert 2002, is daar talle redes waarom die fees gewild is.
“Ons het ’n verskeidenheid fynproewerskeppings noukeurig uitgekies, insluitend bekroonde, tradisionele en handgemaakte kaas, van bokkaas, Italiaanse kaas, en gegeurde Gouda en Cheddar, van Labneh tot Gruberg, van Rockvale tot Kasselshoop.
“Kom proe en koop kos met karakter soos chorizo of koedoe-, Italiaanse en Spaanse salami’s, bederf jou palet met heuning, patee, of humus, of wees avontuurlik met balsamiese krale.
“Voeg ’n tikkie Franse flair by met ’n baguette of ’n croissant en skep prentjiemooi oomblikke met ’n keuse van van die heel beste olywe en tapenades,” het hy feesgangers uitgenooi.
Die Standard Bank Travel and Taste-ervaringe is nog ’n nuwe toevoeging. “Dit is n opwindende nuwe konsep waar glans-sjefs en bekende kos- en wynkenners saam disse opwip in drie sessies per dag.”
Sjef Tiaan Langenegger sal op albei dae ’n voorsmakie van sy splinternuwe televisiekookprogram deel, met sy akteursmaat Neels van Jaarsveld wat Saterdag ’n draai aan sy tafel sal maak.
Keldermeester JD Pretorius, se pas-en-proe van Warwick-wyne met Dalewood Fromage-kaas in, is op Saterdag se program en daar sal ook Ladismith-kaas te proe wees saam met van SA se top chenin blanc’s.
Die jarelange SA Kaasfees-gunsteling, glans-sjef Jenny Morris, sal Sondag haar kreatiewe flair ten toon stel.
Gaste kan ontspan op die landgoed se grasperke met oorgenoeg skadu-sitplek, of kan na die binnehof ontsnap, terwyl topkunstenaars vermaak verskaf.
Saterdag se musiekprogram sluit vertonings in deur, die volle Watershed-orkes, die gewilde Jimm Harisson Project, en die duo Sister Sister.
Sondag is dit tyd vir kunstenaars soos Dehan Marais, Sister Sister, asook Watershed. Die daaglikse Ladismith Kaaskerfkompetisie is nog ’n aanbieding.
Feeskaartjies kos R350 per persoon per dag en sluit in ’n eksklusiewe proeglas.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, asook by Pick n Pay-winkels. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie en slegs ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. ’n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting of ’n negatiewe toetsuitslag sal van toepassing wees.
Die SA Kaasfees is daarna in Hermanus, aan die Weskus en maak op Saterdag April 30 en Sondag Mei 1, weer plaaslik ’n draai by Sandringham-wynlandgoed buite Stellenbosch.
Vir meer inligting, besoek, www.cheesefestival.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440. E-posse kan na, admin@agriexpo.co.za, gestuur word.