Volgens organiseerders van die 2022 Suid-Afrikaanse Kaasfees, was dit, gemeet aan opkoms en verkope, ’n reuse sukses.
Vanjaar se SA Kaasfees het vanaf Saterdag 30 April tot Maandag 2 Mei, op Sandringham buite Stellenbosch geskied en volgens ‘n amptelike persverklaring deur die fees uitgereik, was alle kaartjies uitverkoop en die fees is deur 6 000 mense bygewoon.
“Ons glo ons het met innoverende oplossings vorendag gekom om ’n suksesvolle fees te kon aanbied binne die beperkende Covid 19-regulasies wat steeds van toepassing is op die geleentheidsbedryf,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, wat sedert 2002 die SA Kaasfees organiseer.
Volgens die Wes-Kaapse Premier Alan Winde is vanjaar se fees ’n groot teken dat die ekonomie weer aan die gang kom. “Ons móét vorentoe beweeg, ons kan nie bekostig om dit nié te doen nie, veral vir werkskepping. Watter beter manier is daar nie om ’n fees te hou as ’n vertoonvenster van al ons landbouprodukte, en om mense byeen te bring en dit met musiek te vier nie.”
Feesgangers kon kies en keur uit sowat 120 uitstallers se skeppings, waaronder ’n aantal klein kaasmakers wat as deel van die #SupportSmallCheeseMakers-projek, in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL), genooi is om hul unieke handgemaakte produkte bekend te stel.
Besoekers kon ook vanjaar weer as deel van die Cape Made: Taste the Alternatives-projek, in vennootskap met die WKDL, alternatiewe nisprodukte uittoets en koop.
Menige uitstallers se produkte het heeltemal uitverkoop met besonderse produkte, soos Zandam se buffel-mozzarella, Jabulani Chigara se draakvrugte, Klein River Cheese se wêreldbekroonde verouderde Gruberg, Rockvale én Foxenburg se bokmelkkase, Tlaquepaque se halloumi, Karootjie van Calitzdorp se roosmaryn-en-rooiwynkruiesout asook die Wes-Kaap Heuningbostee-koöperasie se tee, wat van die rakke gevlieg het.
“Ons was aangenaam verras met die ondersteuning”, sê die distilleerder Robyn Hartman van die splinternuwe 9 Orphans Distillery. “Ons het reeds sowat die helfte van ons heel eerste stooksel van turksvy-gin en akkergegeurde eikesap-gin, van 360 bottels elk, by die fees verkoop.”
Volgens mnr. Ehlers is dit wonderlik vir Agri-Expo om ’n bydrae te kan lewer op die ekonomiese herstelpad van groot en klein besighede.
“Die waarde van die SA Kaasfees lê juis opgesluit in die platform wat geskep word vir besighede, van klein entrepreneurs tot nasionale maatskappye, om interaktief met verbruikers om te gaan en hul produkte bekend te stel asook om die vele bemarkingsgeleenthede wat die fees bied, te benut.”
Die Standard Bank Travel & Taste-ervaring was ’n groot gunsteling onder besoekers. Bekende sjefs soos Tiaan Langenegger van kykNET se Tiaan Proe, Jenny Morris en Isabella Niehaus, asook die akteur Neels van Jaarsveld, het feesgangers vermaak terwyl hulle van Suid-Afrika se top chenin blancs en pinotage tot boetiekbier en-gin saam met ’n verskeidenheid kase van gehalte kon proe.