Laerskool Noord se leuse is “Kyk noord en stoot voort”, maar in hierdie lekker lag produksie met dieselfde naam is dit alles behalwe die geval.
Laerskool Noord word volgende maand by The Drama Factory in die Strand opgevoer.
Met ’n indrukwekkende rolverdeling is gehore in vir groot vermaak. Die storielyn handel oor drie onderwyseresse wat ’n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede beplan.
Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier, met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie personeelkamer ’n tikkende tydbom.
En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord. Kan dit een van hulle wees?
’n Komedie met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie, Neels Coetzee Regie deur Gideon Lombard en teks deur Ilne Fourie.
Laerskool Noord is ‘n lekkerlag komedie – die perfekte manier om die nuwe jaar af te skop. Dis ’n komiese kykie na wat werklik agter die swartbord gebeur.
Skrywer, Ilne Fourie, bekend vir haar RSG-radiodramas, kleur met haar tong-in-die-kies humor en pittige waarnemingsvermoë hierdie karakters so in dat iedereen van ons sonder twyfel een van ons oud-onderwyseresse sal herken.
Gideon Lombard, bekroonde akteur en regisseur, hou almal se varkies, en in Meneer se geval, poedels op hok. Die produksie word geskep in samewerking met Vrystaat Kunstefees en Aardklop en NATi.
Vertonings is op Saterdag April 1 om 7.30nm en op Saterdag April 2, om 4nm. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.thedramafactory.co.za