Plante het hul geheime, en ’n geskiedenis

Die boek se voorblad.

Ek wonder altyd as ek ’n slak op ’n plant sien, wat voel daai plant? Skreeu dit van pyn? Maar, dalk beter om nie te weet nie.

Dog, daar is baie wat ’n mens oor plante kan leer en wat jy behoort te weet. Met die ontvangs van ’n werklik unieke boek, Flora se geheime taal – stories oor Suider-Afrikaanse plante, deur Madine Swart (Strandveld Boeke, 2016), dink ek dat dié geleentheid wel aan ’n mens gebied word.

Inderdaad wil ek hierdie boek summier aanbeveel as geskenk met Krismis net om die draai.

By die lees hiervan, dink ek toe dadelik aan Dan Sleigh (ook seker omdat ek onlangs oor hom geskryf het) se boek Eilande (2002) waarin staan: “… onhoorbare klanke, ontasbare voorwerpe, onsigbare kleure wat in saad gedra word, het geroep na hom [J.G. De Grevenbroek, ’n man van lettere], soos die lessenaar in ’n akker, die manuskrip in die saad van papirus, die wyn in ’* druiwepit, ’n beker skuimende bier in die garskorrel, die oorlog in assegaaihout.”

Heelwat hiervan spreek Madine inderdaad in haar boek aan – sy noem volkskundiges en akademici, plat op die aarde mense en hooggeleerdes, en mense met belangrike beroepe, soos Jan Smuts (wat oor sy kennis van plante glo gesê het dat hy soveel daarvan weet omdat hy
net Eerste Minister in sy vrye tyd is).

Die Sweedse plantkundige Carl von Linné (alias Linnaeus), vader van die moderne taksonomie, het in sy klassifikasiesisteem vir blomme ook vroulike seksualiteit beskryf, wat deur sommige mense as onkuis afgemaak is. Maar hyself het gesê: “die seksuele eienskappe van plante beskou ons met genot, die van diere met afsku en van onsself met vreemde gedagtes.”

In die voorwoord van Flora se geheime taal skryf Ernst van Jaarsveld: “Plantkundiges ondersoek en klassifiseer plante om wetenskaplike inligting van die plant doeltreffend te kommunikeer.

“Die benaming van plante skakel verwarring uit omdat daar net ene wetenskaplike naam vir elke plant is. Stabiliteit word verseker deur die enkel wetenskaplike naam, en plaas die plant onmiddellik saam met sy naasverwante in ’n familie groepering waaruit afleidings gemaak kan word.”

Hy skryf verder: “Die skrywer, Madine Swart, het in hierdie boek met ’n vars idee vorendag gekom: om plante, hulle volksname en soms wetenskaplike name aan ’* simbool wat opvallend van die plant of naam is, te koppel.”

Hy sê dat “sy praat van die voorheen afgeskeepte deel van ons kultuurhistoriese erfenis, die simboliek van ons flora.” Hy spreek die wens uit dat die boek “nuwe lewe en belangstelling in die Afrikaanse plantkultuur sal bring.”

Madine self skryf in die inleiding dat mites, legendes, literatuur en argeologiese bewyse die aangetrokkenheid van die mens tot plante bewys – selfs die naam “Flora,” kom van ’n Griekse godin.

Aan die ander kant gee volksname goeie leidrade van ons voorsate se interpretasies, en bied dit boonop ’n taal of kode wat help om ou geheime te ontrafel.

Sy skryf ook oor medisinale gebruike en bygelowe wat aan plante gekoppel word.

Wat volksname betref, sê Madine, word in Afrika duideliker gepraat vanuit ’n kollektiewe onbewuste. Botaniese name word verander soos wat DNA-studies toon dat plante eerder in ander spesies hoort as voorheen geglo is, maar volksname bly redelik bestendig – een plantsoort kan wel natuurlik verskillende name in verskillende areas sê.

Die waboom (Protea nitida) is ’n goeie voorbeeld van ’* plant waarvan die wetenskaplike naam al vier maal oor die afgelope 350 jaar verander het, maar steeds vir die “gewone volk” bloot waboom bly.

In die Kaap met sy groot biologiese diversiteit is daar heelwat om oor trots te voel en vir baie lank ook al, want plantjagters het al lank van voor Van Riebeeck hier geland het van Flora Capensis geweet en veral in die 18de eeu – dié periode het as “Kaapzeit” bekend gestaan en Madine skryf heelwat hieroor.

Sy noem ook dat die droë, goed geventileerde kweekhuise van Europa ons plante goed gepas het.

Van die versamelingsprojekte deur o.a. kol. Jacob Gordon en die passie van geleerdes soos baron Hendrik Adriaan van Reede om dik volumes daaroor te skryf, word in talle geskiedenisboeke vertel.

Madine het omvattende navorsing gedoen en haar insigte mooi verpak.

Die onderwerp in ag genome sou ek wat wou gee om meer kleur in die boek te kon sien, maar ek verstaan al te goed watter onkostes dit sou meebring, so ek volstaan met die waardering van die teks, en wens Madine geluk met ’n netjiese en navolgenswaardige stukkie liefdeswerk.