Haar roosterkoek padstalle- tjie langs die N1 in Laingsburg was aanvanklik vir Tannie Poppie van As, ’n bron van inkomste, maar spoedig het die maak van hierdie tradisionele Karoo broodtjie ontaard in ’n geleentheid waardeur sy op ’n ongelooflike wyse haar warm hart, siel en kleurryke karakter aan die wêreld ten toon kan stel.
Ook ’n manier om ’n stukkie van die Karoo se uniekheid met ander te deel.
Haar dogter, Naomi Etson het verlede jaar op plaaslike bodem haar eie roosterkoek-reis begin.
As boorling van Prins Albert, sien ek uit om die dogter van befaamde Tannie Poppie te ontmoet. Met my aankoms by die huis in Koedoestraat, Macassar, is Naomi alreeds besig om rooster- koeke oor die kole te braai.
Ná 14 jaar se brode braai, doen sy dit moeiteloos en met ’n natuurlike ratsheid, ongepla deur die hitte van die kole.
Die klaargemaakte brode met hul kenmerkende kruise deur die rooster gelaat, pronk in perfekte vorm en kleur, amper met opset mooier en meer opsigtelik onder die kamera se lens, gereed om deur kliënte opgeraap te word.
Dit was die bekende aanhaling, “If not us, who? And if not now, when?” vertel sy wat haar aangespoor het om haar eie besigheid te begin.
Haar ma het hul van kleins af geleer om self-onderhoudend te wees. “My ma het altyd gesê ’n mens staan nie bakhand nie jy moet jouself help.”
Sy maak sedert verlede jaar brode, maar sê die onderneming het ’n hupstoot gekry te danke aan ’n weeklikse bestelling deur sr. Karin Wooldridge en die personeel van Krijt verpleegkundige praktyk in Somerset-Wes.
Sy het nou groot planne om die besigheid, Tannie Poppie se roosterkoeke made by Amy, uit te brei.
Die eerste stap is om mobiel te raak en so haar brode na omliggende gebiede te vervoer, sê Naomi, of Amy soos haar familie en vriende haar noem.
“Kyk ek sukkel nog om op die been te kom. Ek verwag nie geld van mense nie, maar wat my hart se begeerte rêrig is, as daar iemand iewers in die wêreld of in Suid-Afrika net vir my kan borg met ’n vervoer of met ’n fonds- insameling kan help daarvoor.”
Haar plan is om tydens naweke in omliggende gebiede te gaan stalletjie opsit vanwaar sy haar brode wil verkoop.
John Skippers van Firgrove wat ’n gereelde koper by haar ma se stalletjie in Laingsburg is kom koop tydens die onderhoud brode.
“Ek is baie op die pad omdat ek in die die weermag is, so as ek Gauteng se kant toe gaan dan koop ek altyd teen die pad in Laingsburg.
“Wat dit nóú lekker maak is dat die broodjies nou plaaslik beskikbaar is. Dit bring die Karoo na die gemeenskap toe,” sê hy ingenome.
Alhoewel haar ma se kitsroem vir hulle toegang tot ’n heel ander wêreld gebied het, kan sy nog klokhelder haar moeilike kinderjare onthou.
“Ek kom uit ’n agtergrond waar ek in die nag in my bed na die stêrre kon lê en kyk,” want sê sy waar hulle buite in ’n selfgemaakte struktuur gebly het, het hul blyplek nie eers oor ’n volwaardige dak beskik nie.
Vandag kyk sy met dankbaarheid terug met die besef dat roos-terkoeke vir hul gesin ’n uitkoms was.
’n Uitkoms wat sy destyds as jong tiener as ’n vernedering beskou het.
“My gunsteling herinnering was toe ek vrek skaam was vir hierdie roosterbrood, ek was vir jou so skaam soos kan kom.
“As my ma soggens so met die takke (vir vuurmaak) oor die groot Buffelsrivier geloop het, dan sê ek, Mammie hoekom moet Mammie nou alewig met hierdie klomp takke en goed loop, nou moet die mense vir ons so snaaks aankyk.”
Die ontmoeting met fietsryer Stan Engelbrecht het egter ’n opwindende wending gebring.
“Toe begin ontdek ek, die besigheid raak nou lekker,” sê sy.
Sy sou egter nooit die omvang van haar ma se harde arbeid kon voorspel nie. Iets wat vandag ’n nalatenskap is.
Haar groot droom is om ’n roosterbrood paleis te begin.
“Dit is die droom wat ek het, want op die einde van die dag moet my kinders kan sien my ma het dit by haar ma gekry, so ons kan dalk óók voortgaan met dit.”
Sy het twee seuns, Shelvin (10) en Antonio (7).
Al is haar ma, bekend vir haar roosterkoek-vaardighede is sy vir Naomi net ’n besonderse ma. “Ek en sy het ’n baie goeie verstandhouding, eerlikwaar. Sy is my steunpilaar; ek kon nie vir ’n beter ma gevra het nie.”
Hulle het selfs hul eiesoortige sêgoedtjies en komiese oom-blikke so tussendeur die maak van roosterkoeke.
Sy lag uitbundig as sy hieraan dink. Haar ma glo in vinnig werk, sê sy. “My ma sal altyd sê ounooi jy bly gevrek.”
Die grootte van die deeg is nóg iets wat sorg vir groot vermaak tussen die twee.
“As ek die deeg sny, sal Mammie sê hierdie brood wat jy nóú hier gesny het, is voor die Here net té groot!
“Maak die brood bietjie kleiner, môre is jy nie hier nie dan kom soek die mense hierdie dubbelbeddens wat jy hier maak,” sê sy lekker in haar Karoo-aksent.
Nuuskierig om te weet wat volgens hierdie bobaas roosterkoekbakkers die geheim tot die perfekte een is, vra ek wat dink sy maak hul brode so besonders?
Haar antwoord verwys na verskeie elemente wat sukses bepaal. Die knie van jou deeg, die tekstuur, wat daarin bygevoeg word en hoe warm of lou jou water is – almal rolspelende faktore.
Dan glo sy vas in die gebruik van net Golden Cloud koekmeel wat na haar mening bydra tot die doeksagtheid van die binneste dele van die broodjies.
“Jy moet letterlik ’n passie en liefde het vir iets wat jy doen; as jy die brood maak en jy het nie ’n passie daarvoor nie gaan dit of te hard of te sag wees.”
Sy dink nog ’n ruk daaroor na en voeg dan met oortuiging by: “My ma sê sy sit Jesus se liefde daarin.”
Aan die einde van die onderhoud besef ek opnuut, vir haar is die maak van roosterbrode nie net ’n inkomste, maar nes haar ma, ook ’n manier om haar menswees met ander te deel. Die maak van die brode skep vir haar kans om van haar warmte en stralende persoonlikheid, ’n algemene eienskap van baie Karoomense, met kopers te kan deel.
Met ’n warm, geskenkte brood in my hand, stap ek geamuseerd weg met ’n ligte, salige gemoed.
Dit voel nogal asof ek sittende op ’n groot Karooklip met my voete in warm, vertroostende Karoosand die onderhoud gevoer het. My siel voel herlaai.
Kontak Naomi by 065 650 9374 vir navrae of bestellings.