’n Totaal van 58 Parel Valleiers het op 24 April die 4 uur lange Taalbondeksamens afgelê.
Die SA Taalbond is ’n organisasie wat sedert 1953 jaarliks ’n Tweetaligheidseksamen – in Afrikaans en Engels – vir leerders in hoërskole aanbied. Dit is die enigste geleentheid vir leerders om hulle tweetaligheid te bepaal en ’n sertifikaat te verwerf wat hul tweetaligheid aandui.
Parel Valleiers word al sedert 1993 blootgestel aan dié eksamen en dit dra by tot versterking van ons leerders se geletterdheid. Laasjaar het meer as 3 000 leerders van regoor Suid-Afrika deelgeneem en drie Parel Valleiers het in die Top 20 geëindig. Hulle was Sandra Snyman, 3de, senior afdeling; Hugo Uys, 4de, senior afdeling; en Renée van Zyl, 16de, junior afdeling.
Parel Vallei se Afrikaans Huistaal-departement het in die graad 12 nasionale senior sertifikaat eksamen van 2016, 7de plek uit alle Weskaapse Onderwysdepartement skole in die Wes-Kaap behaal, ’* bewys dat ekstra eksamens soos dié van die Taalbond aan leerders ’n voorsprong gee.
Die Taalbond ken prysgeld toe aan die top leerders en die senior leerder wat wen, kry ’* R10 000 studiebeurs van die Universiteit van Stellenbosch. Dié jaar se uitslae word gedurende Julie verwag.