Op ’n reënerige dag in die Moederstad

Die skrywer in die bank waar Verwoerd vermoor is.

Vroeg die oggend van 24 Januarie ry ek en ’n skrywersvriend in stad toe.

Ons parkeer langs Kunstekaap en gaan sit in ’n Portugese kafee, bestel ontbyt. Stap op na die Grootte Kerk, hy neem fotos. Ek vra of hy ’n spesifieke grafsteen sal afneem – dié van Baron Pieter van Reede, die goewerneur wat nooit een was nie, wat op see, op pad hierheen, gesterf het.

Dit begin liggies reën. Ons loop in die wandelpad tussen die Parlementsgeboue en die Tuine op. Ek weet mense leef maar van dag tot dag, sien uit na die naweek, en begin voor. Hulle leef in die hede, of sien uit na die toekoms.

Die verlede is soos koue kos, hulle voel min daarvoor. Tog, vir my wat al soveel dekades met ’n alom-bewustheid daarvan leef, is dit anders – ek dink aan Van Reede se begrafnis, ’n groot gebeurtenis destyds, en die geskiedenis van die kerk, en van die gebou oorkant die straat daarvan, wat al hooggeregshof, parlement, staatsargief en slawelosie was, en nou museum.

Die huidige Parlementsgeboue, waar die staatsargief eers in die kelders was. En tussen die bome van die Tuine deur, sien ek die Sentrum van die Boek, wat eers die eerste universiteitsgebou in die land was, die Universiteit van Suid-Afrika, daarna die Universiteit van Kaapstad, toe die staatsargief.

Dit was voordat die huidige staatsargief in 1989 op die perseel van die ou Roelandstraatse gevangenis gebou is – net die tronk se buitemure staan nog daar, ’n nasionale monument.

Aan die bopunt van die wandelpad is die majesteuese Mount Nelson hotel, waar ons op die stoep gaan sit, na die fontein kyk en aan historiese figure dink wat voorheen daar gesit het – een van hulle tekeninge hang teen die mure: Daniel Cornelius Boonzaier.

Hier in die hotel het hy dikwels kom tee drink – nou kos twee limonades R73 – onderandere, met Generaal De Wet en President Steyn, soos hy in sy dagboeke vertel. Ons loer na ons horlosies en stap terug met die wandelpad langs na die parlementskompleks. Daar ontmoet oud-joernalis Pieter Swart ons en vergesel ons na die VF Plus se kantore, waar my vriend met dr. Pieter Mulder gaan gesels.

Dr. Mulder het uitgetree as partyleier en is nou weer ene lektor, sy vorige beroep. Hy geniet dit duidelik om die geskiedenis van nie net die Suid-Afrikaanse Parlement aan ons uit te sê nie, maar ook van die Britse parlementêre stelsel, waarop ons stelsel gebaseer is. Hy vertel waar die benamings “Whip” en “Speaker” vandaan kom, hoekom die ou raadsale, soos die een waar dr. H.F. Verwoerd in 1966 vermoor is, in rooi en groen beklee is, en hoekom die nuwe sale nie meer so lyk nie.

Hy wys na skilderye van historiese geleenthede en figure, vertel staaltjies en grappe, gaan wys ons Tuynhuis se tuin, vertel hoe oud-presidente Mandela en Mbeki persone soos Presidente Bill Clinton en Vladimir Putin daar onthaal het, en vertel ons van die besondere verhouding wat President Zuma met sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma het.

Ons bespiegel oor die opvolgingskwessie en of die parlementsittings dalk vorentoe nie meer in Kaapstad gehou sal word nie.

Later stap ons uit, verby die lokaal waar C.J. Langenhoven, op sy dag ook ’n senator, glo sy kollegas se sambrele gesteel het en hulle hom toe elkeen ’n sambreel geskenk het om hulself verdere ongerief te spaar, en Dr. Mulder gaan wys ons ’n holte in een van die buitemure waar genl. Jan Smuts sy knipmes geslyp het.

En ek dink hoeveel mense het al daar verby gestap en geen benul gehad van die geskiedenis van die plek nie, en ek wonder: is daar so iets soos spoke?

Ek kry ’n rilling en kyk op. Daar is ’n storie dat genl. Louis Botha daar naby selfmoord gepleeg het. Die amptelike geskiedenis konstateer egter hy het op sy plaas gesterf. Aan natuurlike oorsake.

Ek dink aan die ou gesegde oor D.C. Boonzaier – “the man who killed Botha.” Die verwysing dui op die hartseer wat Boonzaier se spotprente veroorsaak het, want Boonzaier het Botha dikwels as ’n verraaier uitgekryt, selfs met ’n Skotse rokkie aan geteken.

Ons kyk almal op na die venster van Botha se kantore. Iemand het al aan my gesê: “Kyk na die standbeeld in Pleinstraat. Onthou, ’n generaal wat aan natuurlike oorsake gesterf het, se perd se pote staan almal op die grond.

As ’n generaal in ’n oorlog vir sy land gesterf het, is een van die perd se pote gelig.” Van waar ons staan kan ons sien dat die standbeeld-perd se regterbeen gelig is.

Ek het al gaan oplees hieroor, sommer op Wikipedia. Daar staan Genl. Botha het op 27 Augustus 1919 in Pretoria gesterf en sy ampstermyn as premier van die Unie van Suid-Afrika is toe beëindig.

Op dieselfde blad is ’n tekening van Botha deur Boonzaier, maar dis ’n vroeë, vleiende tekening, voordat hy Boonzaier se toorn op die hals gehaal het. Op Wikipedia staan ook dat die stories oor die pote van perdestandbeelde sommer net stories is, dis nie ’n reën nie.

Kort daarna stap ons terug Kunstekaap toe. Die lug is oopgetrek en die wind het gaan lê. Ek dink aan Julius Malema en sy gemor oor die standbeeld van die berede generaal. Dis nie Malema se generaal nie. Tye verander.