Oor name en mense…

Voorblad van * Duitser aan die Kaap 1724 - 1765.

Karel Schoeman skryf in sy boek ’n Duitser aan die Kaap 1724-1765 (Protea, 2004) oor hoe hy sy eerste voorsaat in Suid-Afrika, dus die plaaslike stamvader, se lewe nagespeur het.

Hy sê daar is baie stof oor die “onbelangrike agttiende-eeuse Kompanjiesdienaar en vryburger” genaamd Hendrik Schoenmaker uit Boza (Duitsland), danksy die “omslagtige boekhouding en dokumentering van die V.O.C.” Inderdaad.

Hierdie amper puntenerig-heid van die Here Sewentien, die direkteure van V.O.C., wat alles wou weet en beheer in hulle invloedsfere is die rede hoekom die eerste ongeveer twee eeue van ons (geskrewe) geskiedenis beter opgeteken en bewaar is as by enige ander land.

Terwyl Schoeman baie inligting oor sy tema van ondersoek kon versamel, is dit ook die geval oor ’n breër spektrum, en kan enige navorser oor talle temas van daardie tyd deeglike studies onderneem.

Schoeman het nie regtig veel oor sy voorvader Hendrik as persoon geweet nie – hy sou nie ’n identikit kon saamstel soos die polisie dit doen en beskryf watter kleur hare en oë Hendrik gehad het nie, of hoe lank hy was,
hoe fris of maer en selfs watter tipe persoonlikheid hy gehad het nie.

Schoeman besluit toe hy gaan die milieu waarin Hendrik bestaan het, dit wat hy in Duistland sou ervaar het én dit wat hy hier sou beleef het, navors en aan lesers beskryf.

Nietemin, dis oor die naam wat ek hier wil kommentaar lewer. Die voorvaderlike familienaam. Schoeman in al sy vorm en oorspronge.

Eers net, Schoeman noem een rede vir die verwarring oor spellings: hy skryf in hierdie tyd (dis nou die 1700s) was dit algemene gebruik om vreemde name te vertaal of te verbuig, en hy gee voorbeelde – James Thomson het Jacob Thomasz geword, Jonathan Wright het Johannes Riet geword, Carl Christoph Rauchfauss het Carel Christoffel Rykvoet geword, en Henri Lecrévant word toe Ari Lekkerwijn, en so aan.

Daarom neem hy aan dat Hendrik Schoenmaker oorspronklik Heinrich Schumacher geheet het.

In dokumente waarin hierdie persoon vermeld word is sy van ook verskillend gespel, naamlik Schoenmaker, Schoemaker, Schoenman of Schoeman.

Tipies mens, word die kortste of maklikste pad verkies, en dis seker hoe Karel Schoeman sy uiteindelike naam gekry het.

In 1737, skryf Schoeman, is Hendrik se van nog eenmaal as Schoemaker aangegee, waarna dit op die dokument doodgetrek is en na Schoeman verander is. Teen daardie tyd, sê Schoeman, was dit duidelik die aanvaarde vorm.

Hy sê ook daar is drie afsonderlike families Schoeman in Suid-Afrika, met drie onderskeie stamvaders. Ons neem aan hulle het almal ingeval by die huidige spelwyse, sodat Schoeman gestandardiseer is, anders as die talle spelwyses van Rossouw en dié van Celliers, Cilliers en Cillié.

Nogtans is daar gepubliseerde bronne wat dieselfde Hendrik se naam as Heinrich, en as Schuman, Schumacher en Schoeman aangee.

Hy skryf dat daar in die 1700s 41 mans met die van Schoenmaker in diens van die VOC was en net agt Schoemans. Kyk ’n mens op die internet, kry jy van meeste vanne variasies en weet jy later nie wie van wie verwant mag wees nie.

Vir genealoë moet dit ’n groot bron van verwarring en irritasie wees. Soos ook die ding met “familiename.” Dis nou voorname, bedoel ek.

Dosyne mense is vir geslagtelank na mekaar vernoem en as die navorser nie datums van geboorte en sterftes kan kry nie, is dit chaos. As jy byvoorbeeld die naam William van Reede intik, kry jy minstens drie verskillende stelle inligting.

Dan moet jy probeer om ander bronne te vind en vergelykings te tref, maar daar is nie altyd nie.

Karel Schoeman, ’n man wat berug is vir sy stroomop-houding en eksentrieke optrede dink blykbaar dis ’n vermaaklike spelertjie, want hy skryf dat daar ook optekenings is van ene H.H. Schönemann wat as soldaat na die Kaap gekom het en van 1694 tot 171 as plaaskneg gewerk het, en sy naam ook as Schiemann en Schigmann geteken het, maar “in die rekords daarnaas” ook as Schoeman aangedui word. Op hierdie stadium begin ’n mens wonder of hy nie moedswillig was nie – dis nou H.H. Watsenaam, nie karel Schoeman nie.

Nie dat onse Onkel Karel nie moedswillig kan wees nie. Om die relaas af te sluit, ’n staaljtjie oor hom. Die kuns- en literatuurkenner Amanda Botha vertel my dat toe sy Karel Schoeman die eerste maal (by die Mount Nelson) ontmoet het, was dit volgens instruksies: hy sal die man met die koerant wees en daar sal ’n glas sjampanje op die tafel wees. So sal sy hom uitken.

As ek reg onthou, was daar ook vir haar ’n glas met vonkelwyn (ek neem aan dit was nie regte Franse sjampanje nie, hy is berug vir sy suinigheid), maar sy mag nie daarvan drink of praat voordat hy toestemming gegee het nie.

En toe kom daar iemand wat haar ken haar groet en hy staan op en loop.

Die afspraak was met hom alleen, met niemand anders nie, was die uitleg van sy optrede.

Dalk is moedswilligheid juis iets wat in die gene oorgedra is, wat ook al die spellings van name mag wees.