Oor misvertaalde name en ander mistastings

In die satiriese relaas aangaande Jan van Riebeeck en sy sogenaamde geheime briewe aan sy neef, The secret letters of Jan van Riebeeck, deur Robert Kirby, soos tevore in hierdie rubriek beskryf, het Jan periodiek probeer wegkom van Maria – en stig toe ’* plek genaamd Bellville.

Wel, dis dalk snaaks, maar dan moet jy weet dis veronderstel om snaaks te wees. En om dit te weet, moet jy weet dat Bellville eers sedert 1861 as sodanig bekend was, vernoem na Charles Bell, wat eers in 1813 gebore is, terwyl Jan al in 1662 hier weg is na Batavia en in 1677 daar (Jakarta) oorlede is.

Maar, terug na Kaapstad se voorstede – in 1657, dus eers vyf jaar * á hulle aankoms hier, het die eerste Europeërs (Vryburgers) grond begin verwerk in die omgewing van Kaapstad, naamlik in die Liesbeekvallei. Binne ’* geslag was al die bewerkbare grond daarlangs beset, en het hierdie eerste koloniste na die heuwels in die ooste gekyk – die Tygerberg, so genoem weens die kollerige voorkoms van die plantegroei.

Aanvanklik is dit “Luiperdsberge” genoem, maar vir meeste Europeërs was luiperds en tiere een en dieselfde – waarskynlik omdat nie een van die twee katsoorte in Europa voorkom nie, en daarom was dié heuwels teen 1661 reeds óók bekend as die “Tierberge.”

In Engels word dit toe later “Tygerberg Hills”, oftewel “Tierberg Heuwels”, wat selfs nog minder sin maak. Maar wat, as Muiz-enberg na “Meeuzenburg” en Waalstraat na “Whale Street” verander kan word, wie gee om vir ’* bietjie toutologie?

Die eerste kommentaar wat oor die heuwels opgespoor kan word is deur Peter Kolbe, ’* Duitser wat ses jaar lank navorsing aan die Kaap gedoen het. Hy het na sy terugkeer na Duistland die boek Caput Bonae Spei Hodiernum gepubliseer, wat nie beteken die Kaap is kaput (tot niet, of “moertoe”as Johan Bakkes dit sou skryf) nie, maar “Kaap die Goeie Hoop vandag”.

Kolbe is bekend as iemand wat onvleiende dinge oor die Kaap – asook oor Simon van der Stel geskryf het – so dit sou eintlik nie verbasend gewees het nie, maar wat die Tygerberg-area betref, is net die volgende van belang: “Mense noem hierdie hoe heuwels of klein bergies die Tygerberge, nie omdat baie tiers in die gebied hou nie, maar eerder vanweë die groot groen kolle wat die heuwels van al die ander onderskei.

Die oorsaak van dié kolle is die bokke wat voorheen daar aangetref is – hulle het dieselfde uitwerking gehad op al die ander plekke waar hulle slaapgebiede gehad het. Die mis wat hulle daar agtergelaat het, het die grond vrugbaar gemaak.

Dit is waarom die gras in daardie kolle vandag toe nog weliger en beter groei as op plekke waar die diere nie die nag deurgebring het nie.”

Kolbe was egter nie in die kol oor die kollerige voorkoms nie – verskoon my, ek kon myself nie bedwing nie – want hy was oor drie aspekte verkeerd: Hierdie kolle was ook op ander plekke te sien, nie net teen die Tygerberg se hange nie, en dis nie die donkerder dele wat die kolle vorm nie, maar ligter dele, terwyl dit dan onwaarskynlik is dat dié kolle nie deur bokmis veroorsaak is nie.

So, wat het die kolle veroorsaak? In die boek Die Tygerberg (Tafelberg, 1998) vind ’* mens die antwoord: Nie bokke nie, maar termiete (waar is Eugène Marais as jy hom nodig het?) – die voorkoms van klein, gelokaliseerde konsentrasies van grasse wat veral in die vroeë somer duidelik waarneembaar is as liggekleurde kolle in die donker renosterveld (Elytropappus rhinocerotis).

Hierdie graskolle is die gevolg van termietwerking, waarskynlik die sogenaamde “houtkapper”- of “stokkiesdraer”-termiet (Microhodotermes viator), wat algemene in die Wes-Kaap voorkom.

Hulle bou nie groot hope op die grondoppervlak nie, maar dra organiese materiaal na hulle ondergrondse kamers.

Aangesien hulle die meerjarige struikgewasse rondom hulle neste vernietig, floreer sekere grassoorte op die oopgestelde kolle – dít, reken J.J.N. Lambrechts, grondkundige en medeskrywer van laasgenoemde boek, is die ligte kolle waaraan Tierberg sy naam ontleen het. Nietemin, Van Riebeeck het verkenners uitgestuur om die binneland te verken, soos Jan Wintervogel in 1655 en twee jaar later is ’* groot ekspedisie onder Abraham Gabbema gereë* om vee te ruil by die nabygeleë Khoi-mense.

In sy verslag aan Van Riebeeck noem hy die heuwels eers “Tijgerbergen” en later weer “Luipaertsberg”, wat óf daarop kan dui dat dié twee name op daardie tydstip afwisselend aangewend is, óf dat die eerste, groter heuwelgedeelte dalk as die “Luipaertsberg” bekend kon wees en die reeks verder aan noordweswaarts gesamentlik as die “Tijgerbergen” bekend kon wees.

Hoe dit ook al sy, ek en my maats wat aan die voet van hierdie koppe grootgeword het, het soms daar gespeel en dit sommer “Die Koppie” of “Tygerbergkoppie” genoem, soos ook my pa en sy broers vóór ons.

Nou is dit ’* natuurreservaat, en in 1996 het ons Francois Verster senior se as daar gaan strooi. Heel gepas ook, want die Versters het al sedert die 1750s ’* verbintenis met die koppie/berg/heuwel, soos ek in ’* volgende rubriek sal vertel.