Oor kaarte, en die hande wat gespeel is

Kaart van * gedeelte van Afrika, oorspronklik in 1688 gepubliseer deur Vicenzo Coronelli, in sy boek Libro dei Globi (Maps of Southern Africa, deur Oscar Norwich, bl 46).

Toe ek skoolgegee het, was geskiedenis en aardrykskunde “my” vakke – behalwe toe ek tydens diensplig ook gesondheidsleer aan Boesmans in die Caprivi gegee het – en aardrykskunde is steeds my tweede liefde. Veral die kleurryke aspekte soos orkane, vulkane en aardbewings.

Op skool was my keuse vir take altyd daardie onderwerpe en het ek baie ure in biblioteke deurgebring om daaroor op te lees.

Maar kartografie het my ook geïnteresseer, dalk weens die kunssinnigheid van die ouer kaarte, om nie van die verbeeldingryke versierings wat seemonsters en mitologiese wesens ingesluit het, want die wiskundige vaardighede wat dit ook geverg het was nie juis my forté nie.

Daarom het ek regop gesit toe ek in ’n koerant van 5 April 1967 ’n berig opgespoor het wat hieroor handel.

Dis geskryf deur die kuns- en literatuurkenner Amanda Botha, en ek haal vervolgens ’n paar paragrawe uit haar artikel aan: “’n Mens wonder soms of die hedendaagse neiging om sierkaarte uit die tyd van die groot ontdekkingstogte te versamel, nie verband hou met ons eie eeu van ontdekkingstogte in die hemelruim nie.

“Is die opwinding wat die mens vandag in die verkenning van die buitenste ruimte ervaar, nie maar dieselfde as wat die ontdekkingsreisiger van die Renaissance in die stormagtige waters om die Kaap die Goeie Hoop op pad na die geheimsinnige Ooste ondervind het nie?

“Kartografie, die wetenskap om grafiese besonderhede op kaart te bring, het reeds eeue gelede ontstaan. Die Babiloniërs, sover bekend, was die eerste volk om hierdie wetenskap te beoefen.

“Hul eerste kaarte dateer uit die sesde eeu voor Christus en voorbeelde daarvan het op kleitablette behoue gebly.”

Sy skryf dat in die Middeleeue wou die Wes-Europeër vanweë sy godsdienstige oortuiginge nie na die wêreldse skatte gaan soek wat die Babiloniese kartograwe op hul kleitablette aangedui het nie.

“Dit was toe dat die Ooste op die gebied van die kartografie ’n groot voorsprong bo die Weste verkry het. Nadat Portugal en Spanje met welslae die seë begin verken het, het die Nederlande in hulle voetspore begin volg,” sê sy.

Volgens haar is in Antwerpen en Amsterdam kartografie as wetenskap vir die eerste keer op grootskaal beoefen, en is dit deur die staat gesubsidieer.

Die Vlaamse en Nederlandse kartograwe het in die sestiende en sewentiende eeue groot bydraes gemaak in die sogenaamde Goue Eeu wat die Nederlandse Republiek in hierdie tyd beleef het, beskryf sy. Soos die dominees altyd sê: Tot hiertoe lees ons saam (uit Amanda se stuk van 50 jaar gelede).

Wat my nogal fassineer oor dié stuk is, en die oorspronklike berig is omtrent drie maal so lank as die dele wat ek daaruit wat ek saamgevoeg het, is die feit dat die Oosterlinge skynbaar nie dieselfde drang gehad het om die wêreld te verken as wat die Westerlinge gehad het nie. Altans, verder aan in haar artikel skryf Amanda ook so.

Dis nou oor die tyd nadat die Donker Eeue agtergelaat is en die Katolieke Kerk se wurggreep op die lewensuitkyk van die massas verslap het en georganiseerde pogings van stapel gestuur is om die gevaarlike Nuwe Wêreld, insluitend Donker Afrika, te verken en sogenaamd mak te maak, deur beide sendelinge en soldate.

Daarna is natuurlik besluit om sekere dele te koloniseer en het dié gebruik, wat duisende jare lank beoefen is, soos deur die Vikings en later die Romeine in Brittanje, op groot skaal herleef.

Die term “drang nach Osten” het eers later bekend geraak, maar dit het toe al, sedert ongeveer die 1400s, gegroei totdat dit ’n kompetisie tussen groot Westerse moondhede geword het: die Wedloop na Afrika.

En die Westerse moondhede wat die ontdekkingsreise na die Ooste begin het eers na die Amerikas begin kyk en toe Afrika aan die beurt kom bietjie laat weggespring: Spanje het hier uitgemis en Portugal moes hier aan die suide tevrede wees met Mosambiek en Angola.

Hoe dit ook al sy, Amanda sluit haar artikel af, nadat sy Nederland en die Goue Eeu genoem het, met: “Dis juis in hierdie eeu van ontwikkeling en kolonisasie dat die suidpunt van Afrika deur die onvergenoegde drang na kennis van die Westerse mens, deel van die Westerse kultuurgemeenskap geword het.”

In ’n sekere sin is dit profetiese woorde; onthou dis ’n halfeeu gelede geskryf – vandag sal die invloed van kartografie en die nagevolge van ontdekkingsreise anders beskryf word.

Ter wille van politieke sensitiwiteite behoort stellings en terminologie hieroor nou versigtiger gekies te word. Tierlantyntjies en kleurryke oorbodighede, soos op ou kaarte, is nou ongewens.

Boonop lyk dit vir my asof ’n mens “kaarte” nogal as “maps” én as “cards” kan sien, want dit herinner aan ’* soort dobbelspel wat miljoene mense se lewenslot bepaal het.

Eintlik vandag nog steeds.