Ons kom van vêr: verhale van taal en identiteit

Ons kom van vêr (Naledi, 2016).

Op Saterdagoggend 18 Maart is die Bôrdienghuis van die Breytenbach Sentrum stampvol.

Buite, in die ruimte tussen die twee geboue op die erf maal mense rond en kletter, blaas, dreun, klop en sing dit luid. Jongmense in helderkleurige gewade en blink instrumente maak musiek in die styl van die Klopse.

Hulle is die Caledonian Roses, en hierdie jong orkes kan “kole gooi,” o ja, hulle mág maar sing.

In die Bôrdienghuis, ’n saaltjie met ’n kroeg agter en ’n verhoog voor, word gereedgemaak vir ’n gesprek.

’n Gryskopman sit en lees notas op sy briewetas wat plat voor hom lê. Dis prof. Abraham de Vries. Hy berei hom voor om gespreksleier te wees wanneer die genooide sprekers hulle by hom aansluit.

Mense staan rond en groet ou bekendes en tussendeur draf die organiseerders, insluitend die immer-energieke Isabeau Botha, rond.

Weldra verwelkom Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum, almal en beklemtoon dit dat die Afrikaanstaliges, met mekaar moet kommunikeer in ons taal, veral rondom die kwessie van identiteit.

Hierdie kwessie word inderdaad, saam met die gebruik van Afrikaans, ’n deurlopende tema in die groter dialoog van die dag.

Toe lees die digteres Gaireyah Fredericks van haar gedigte voor, naamlik Adam Small en toe Kaaps is Hollands.

Prof. Wannie Cartens vertel van die Noordwes-Universiteit (Potch) waar die idee vir die bundel Ons kom van vêr onstaan het, en verklaar dat die “storie van Afrikaans” nou eers, met die 36 stories in die bundel, op ’n inklusiewe wyse begin vertel word.

Prof. Michael de Cordeur, mede-samesteller wat ook onlangs oor dié boek by Pniël se Adam Small-fees gepraat het, sê weggesteekte stukke van Afrikaans word deur die boek ontbloot, want Afrikaans het nie doodgegaan in die harte van bruin mense nie.

Hulle het net gewag vir die geleentheid om te vertel dat ons van vêraf kom. “Nou het die boek gewys dat ons almal ook hiervandaan is.”

Boeke “eggo” dikwels mekaar, en sy woorde het my herinner aan Dana Snyman se boek met die titel Hiervandaan (2011) en sy vertellings wat dikwels die gemeenskaplike kultuurgoedere van Suid-Afrikaners aanraak.

Ingelyks het Ilse Salzwedel ’n boek getiteld Onvertelde stories van Afrikaans (2012) gepubliseer, wat soos Prof. Carstens ook genoem het, juis ’n inspirasie-prikkel vir die nuwe bundel sou word.

Dis hierna die Caledonian Roses se soliste se amptelike beurt – siestog die twee kleinste laaities uiter nie ’n woord nie, kyk net met groot oë rond, totaal verdwerg deur die groter kinders – en dan begin die paneelgeprek op die verhoog.

Elke spreker, almal skrywers in die bundel, vertel iets oor hom- of haarself en die tema van uitreiking tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes word telkens aangeraak, dog die pyn en selfs woede van onthoude vernedering en verwerping is ook in herinnering gebring.

Duidelik is daar nou baie meer welwillendheid, en dié sentiment is ook kenmerkend van die byeenkoms in die Bôrdienghuis.

Die bundel is inderdaad psigo-terapie om pyn uit te skryf en te (ver)deel. Daarom ook is nog sulke bundels nodig.

Prof. De Vries stel eers die teoloog prof. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel aan die woord. Sy wys daarop dat die Sendingkerk al in 1924 gevra het om Afrikaans in hulle geskrifte te lê en dat daar ’n noue band is tussen moedertaal en onderrig: só word identiteit ook oorgedra.

Pattrick Mettler, afgetrede onderwyser, en steeds betrokke by onderrig, het oor identiteit gesê dat hy al 15 name vir bruin mense teëgekom het, en dis vir hom bekommerenswaardig. Hy glo ook inheemse tale moet mekaar steun om te ontwikkel en Afrikaans moet inklusief wees in dié strewe – billikheid is hier essensieel.

Prof. De Cordeur se suster, die voormalige skoonheidskoningin en steeds pragtige Edwena Goff, se boodskap is hierna gehoor.

Sy vertel naamlik hoe sy die teleurstelling om “Mej. Afrika-Suid” gekroon te wees, en nie toegelaat was om na die Mej. Wêreld-kompetisie te gaan om haar land te verteenwoordig nie, verwerk het.

Sy voel vandag dat sy deel is van ’n nie-rassige land, nie ’n veel-rassige land nie.

Malene le Roux, bekend in kultuur- en kunskringe, is toe aan die beurt, en sy waarsku dat ons steeds nie uit die verlede geleer het nie. Sy voel die seer van gister lê vlak begrawe en dat ons mekaar ’n slag in die oë moet kyk.

Ook kry die bruin gemeenskap te min blootstelling. Sy sê die N.G. Kerk en die V.G.K. kan gesluit word en museums word, sodat ’n nuwe gesamentlike kerk gestig kan word.

Onder die aanwesiges het skielik ’n beroering gekom. Die gemoedelikheid het eenskaps gelig en onder die kombers is daar iets anders: nou voel ek nie meer soos ’n Afrikaanssprekende nie, maar soos ’n witmens.

En rondom my sien ek nou bruin mense. Nie net mede-Afrikaanssprekendes nie.

Hoewel ek begrip het vir die frustrasie wat oor eeue opgebou het, is ek van mening dat dit ’n (baie nodige) gesprek vir ’n ander dag moet wees.

Herman Bailey, legende in plaaslike regering, rond die gesprek af met staaltjies uit sy veelbewoë loopbaan en ook oor hoe daar op sy geboortesertifikaat “Gemeng” gestaan het en hy dit toe maar na “Kleurling” verander wou * ê… Identiteit, steeds ’* kwessie na al die jare.

Hopelik sal Ons kom van vêr, en soortgelyke boeke wat moet volg, geskiedenisse neerpen wat nie verlore mag gaan nie.