Om te versoen net ’n donker verlede

Dr. Dan Sleigh gesels met lede van die gehoor by die Afrikaanse Taalmuseum (ATM).

Op 3 Desember is ek Paarl toe, na die Taalmuseum. Dis ’n besige dag op die kultuurfront, want op Franschhoek, Wellington en Stellenbosch is daar ook lesings gegee of boeke bekendgestel.

In Suid-Afrika word duidelik gewoel, al skuif die skaduwee van rommelstatus op die ekonomiese front soos ’n donderwolk oor ons. Soos hulle sê: in Afrika skyn die son steeds.

By die Afrikaanse Taalmuseum (ATM) is die saal langs die museum gou vol. Waar dr. Dan Sleigh ook al praat, daag die mense op, of dit Pinelands (SASNEV), die Tuine (Welgemeend), of Paarl (ATM) is, hulle kom. Maar hoewel dr. Sleigh die hoofattraksie is, gaan dit oor méér as hy – dit gaan oor slawe, eintlik dus oor miljoene mense wat oor die aarde heen as sulks onderwerp was en steeds is.

Want as prostitusie die oudste beroep is, is slawerny die tweede oudste. Hier in Suid-Afrika dink ons aan wit op swart onderdrukking, maar in werklikheid ken slawerny geen kleur of gender-grense nie.

Nietemin, die direkteur van die museum, Michael Jonas, open verrigtinge en Marissa von Mollendorf gee ’n roerende weergawe van Amazing Grace, ’n lied wat o.a. deur die ellende van slawe geïnspireer is. Chantelle de Kock, kurator, is volgende met ’n agtergrondskets oor plaaslike toestande tot, en kort n á die vrystelling van slawe op 1 De sember 1834.

Dr. Sleigh se openingsalvo, want dis die impak wat hy wil maak; om die gehoor bewus te maak van die relevansie van geskiedenis, is dat die huidige periode van klimaatsverandering deels deur ons elkeen aangehelp word, ons almal wat daarvan bewus is, maar aanhou besoedel, net so verkeerd is as wat slawerny was.

Hy sê ons is vandag gebelg deur wat ons voorsate gedoen het – ook sy voorvaders het slawe besit (en myne, weet ek) – maar dit was destyds as alledaags beskou.

Die vraag is hoekom daar slawe aangehou is, en dan kan jy weer na klimaatsverandering kyk. Gedurende die periode 800 n.C. tot 1 800 word as ’n mini-ystydperk beskou, toe intense en aanhoudende koue mense genoop het om kos op te gaar en daarom was preserveermiddels soos speserye gesog.

Hierdie speserye is in die Verre Ooste bekom, met groot moeite en lewensverlies – baie skepe het vergaan in die proses.

Die maritieme diensstasie (nie bloot ’n “verversingspos,” iets soos ’n outydse snoepwinkel nie) wat hier aan die Kaap opgerig en ontwikkel is, was deel van die proses, en omdat goeie verhoudinge met die plaaslike bevolking gepropageer was (hulle is níé verslaaf nie), is slawe al in Van Riebeeck se tyd ingevoer om ’n noodsaaklike arbeidsmag te vorm.

Sommige historici het al beweer dat dit ’n groot fout was, dat eerder meer Europeërs moes invoer. Hoe dit op ons land se ontwikkeling sou impakteer, is ’n ope vraag.

Interessant is dat dit volgende jaar reeds vier eeue sal wees sedert die Brouwer-seeroete ontdek is, waarvolgens die seestrome en winde ten beste vir skeepvaart tussen Europa en die Ooste ingespan is.

Ook is skeurbuik nie net op skepe opgedoen nie, maar het talle matrose dit reeds onder lede gehad wanneer hulle aan boord gegaan het – die koue toestande in Europa het voedseltekorte veroorsaak en die handel met die Ooste was dus nie net oor winsbejag en gierigheid nie, dit was vir baie mense ’n noodsaaklikheid.

Hierdie proses om aan vraag en aanbod te voldoen het egter ’n donker kant gehad: slawerny, want arbeidstekorte in die invloedsfere van die Westerse entrepeneurs moes opgelos word. So het magtige maatskappye ontwikkel, soos ook die grootste een ooit, naamlik die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (1602-1800).

Dr. Sleigh het altyd te min tyd om alles wat hy oor ’n halfeeu in die argiewe geleer het oor te dra, maar wat baie mense mag intersseer is dat die sogenaamde slaweklokke op talle plase nie werklik slaweklokke was nie – almal wat op die plase gewerk het is daarmee geroep vir etes.

Ook kon Dr. Sleigh *nêrens bewyse vind dat die slawelosie gedurende die Hollandse tyd vir prostitusie gebruik is nie – wel heelwat in die Britse tydperk.

En ’n laaste brokkie vir die fynproewer: die ou storie van maande se name wat vir slawe gegee is, is soos Januarie, Februarie en September, is oordrewe – hulle kon nie almal wat op een skip gekom het dieselfde name gee nie, en die vroue is ook nie na maande vernoem nie.

Bybelname, name uit Griekse en Romeinse mitologie, ens. is ook dikwels gebruik.

Die verrigtinge is afgesluit met Marissa wat Paternoster vir Suid-Afrika, wat een van Lina Spies se gedigte wat sy getoonset het, sing en ’n blaasorkes, die Drakenstein Youth Development, wat hulle passies uitvoer. Daarna is die heerlike snoeperye aan die bod… en boekekoop. Dis mos hoe ’n mens ’n Saterdagoggend verwyl.

En, wat ek geleer het is dat jy nie met die verlede kan versoen as jy niks daarvan weet nie.