Om aaklighede toe te verf, maar nie te vergeet nie

Oorlog is hel, lui die bekende gesegde, glo eerste deur die Amerikaanse generaal William Tecumseh Sherman (1820 -1891) gesê.

Tog is daar steeds baie mense wat oorlog as normaal of selfs romanties en avontuurlik beskou.

Jong seuns droom van heldedade en meisies swymel oor die skyn van manlike gesag wat uniforms verteenwoordig.

Daar is dosyne films wat die gruwels van gewettigde massamoord ondubbelsinnig en grafies uitbeeld. Dink maar aan Apocalypse now (1979).

Voorheen was daar boeke soos E. M. Remarque se 1929-blitsverkoper Im westen nich neues (All quiet on the Western Front) wat een van die beste verkopers van die genre was.

In 2016 verskyn Oorlog en terpentyn, deur Stefan Hertmans en vertaal deur dr. Daniel Hugo.

Memoirs en kommentare oor die Boereoorlog word nog elke jaar gepubliseer, en deesdae is daar ’n toename in Grensoorlogverhale, maar Hertmans se boek handel oor ’n tyd en plek redelik onbekend aan meeste van ons, naamlik die Lae Lande in die Eerste Wêreldoorlog.

Hertmans maak dit alles baie persoonlik, sy én sy oupa se stories wat vernuftig swaelstert om byna onuitspreeklike lyding van gister met skuldgevoelens van vandag met ’n eerlikheid wat ontwapen en meesleur, na ons binnekamers te bring.

Stories oor die oud-soldaat as gemartelde randfiguur, uitgerangeer deur gemeenskappe wat met nuwe tye, nuwe tamboere wil aanmarseer (dink aan beide Viëtnam en ons eie Bosoorlog), word in baie boeke feitlik gekarikaturiseer, maar Hertmans se oupa was anders: hy het homself na sy ateljee gerangeer.

Dáár het hy die ou meesters pynlik presies probeer naboots, hierdie trotse, maar soms huilende veteraan.

Hy het hom gereeld daar van die aaklighede van die wêreld afgesluit, en nadat mense nie meer sy oorlogsverhale wou aanhoor nie, het hy sy herinneringe neergeskryf, weer pynlik presies, totdat hy nie meer kon sien wat hy skryf nie en die laaste bladsy n* gat in het met die woorde “saans” en “paniek” weerskante daarvan.

In 1963, as 72-jarige, het hy begin skryf. Die liewe Gabrielle was al vir vyf jaar dood. En oor ’n tydperk van 17 jaar het hy geskryf en gewroeg aan 600 bladsye van hoe miljoene mense uitgewis is, moeders wat met huilende kinders aan hulle rokspante deur soldate met geweerkolwe doodgeslaan is, ’n man wat met sy broer se harsings in ’n hoed gesit het, van perde wat aan stukke aan boomtakke gehang het… ek dink n kry die prentjie. Ja, oorlog is hel.

En daarna was daar nog die Spaanse Griep wat 100 miljoen mense uitgewis het selfs meer as die “Groot Oorlog.” Dit het hierdie halfvergete held alles beleef.

En dan is daar die veteraan se vrou wat stil ly, asof sy in die skaduwee van haar kort mannetjie se groot oorlog móét bly.

Die ou orde moet gehandhaaf word; die status quo is die laaste loopgraaf.

Die skrywer, Hertmans, is die toe reeds oorledene, die memoirskrywer in die boek se kleinseun.

Hy het vir 30 jaar uitgestel voordat sy gewete hom oortuig het om sy oupa se dagboek oor te tik, spelfoute te korrigeer en die taal te modernsieer.

Selfs hierdie verbeterings het Hertmans gepla, want hy wou nie die rou eerlikheid van die gefolterde soldaat se stem distileer tot ’n blote leesbare geskrif nie. Hierin het hy wel goed geslaag.

Hertmans se vader het ook gehelp om onduidelikhede in die dagboeke toe te lig met wat hy kon onthou, sodat die uiteindelike produk eintlik ’n samestelling is deur Hertmans en mense wat nog kon onthou, asook Hugo se insette.

Die finale filteringsproses word deur die leser gedoen, wat interpreteer wat geboekstaaf is, dít wat méér is as wat ’n oorlewende wat nie die beelde en reuke van die dood kon vergeet nie, beleef het – die beelde wat hy wou toeverf met die mooiste tonele wat hy kon vind, en die reuke wat terpentyn nie kon verdoesel nie.

Herinneringsgeskrifte soos hierdie een eggo inderdaad Remarque se epiese roman maar Oorlog en terpentyn ’n “kleiner geskiedenis” (petite histoire), ’n intiemer een as baie van die grotes.

Een wat die ou veteraan Urbain Martin “My verskrikking” genoem het.