Nuweland, die ou hinterland

Rugby at Newlands: a history in 50 test matches 1891-2015.

As student in die tagtigerjare het ons graag die trein van Elsiesrivier na Nuweland geneem.

Die treine was stampvol, so erg dat jy vasgedruk gestaan het en die kaartjiesondersoekers nie deur die massa lywe kon kom nie.

Ek onthou ook een geval waar ’n ou tannie onderstebo gestorm is toe ’n trein die Nuweland stasie binnegeskommel het.

Ek het haar kruideniersware die lug in sien trek en die volgende oomblik was sy alleen op die naat van haar rug op die perron en die skare was reeds in die trein, die deur was toe en die wiele het geskwiek – ons was reeds op pad, opgeruimd omdat W.P. nóg ’n sege behaal het.

Daardie was heugelike jare toe die rooi disa en die wit en blou strepe op elkei denkbare voorwerp gesien is – en dit mode geword het om W.P.-truie te dra. O, dit was heerlike dae daai, dalk nie vir ou tannies nie, maar vir rugby-gesdriftiges beslis.

Nuweland as deel van ’n tradisie was iets groter as lewensgroot, dit was ’n unieke ervaring. Wat dié tradisie werklik behels het, was vir elke ondersteuner iets anders, maar gewoonlik nie veel verder as eie herinneringe nie. Dalk wat sy pa en oupa hom vertel het, en dis hoe ver dit gegaan het.

Oor die jare het ek gelees van hoe rugby in Suid-Afrika begin het en ek het dikwels gewonder hoekom dit so ’n groot ding geword het.

Wel, laas week het ek David McClennan, ’n oud-kollega uit die dae toe ons nog staatsargivarisse was gaan besoek by sy boekwinkel Select Books, helaas een van die laaste oorblywende boekwinkels in Langstraat, Kaapstad.

David besit die winkel sedert 1994. En ons ruil toe boeke uit – een van myne (Die groot Drie) vir een van syne (Rugby at Newlands: a history in 50 test matches 1891-2015), en ek glo ek het die beste daarvan afgekom.

David is een van die twee hoof-bydraers tot die boek, so ek sal dit nie resenseer nie, dis immers oneties.

Terloops, wat vir my wonderlik is, is dat David, wie sy eie Skotse familie sekerlik as “bookish” sal beskryf, so lief is vir rugby – hy woon gereeld wedstryde op Nuweland by sedert sy kinderdae in die sewentigerjare. Hy kén Nuweland dus.

In die boek word beskryf hoe die eerste internasionale wedstryd teen ’* besoekende span van die Britse Eilande (ons is die “Colonial side” genoem) plaasgevind het in die skaduwee van Tafelberg, daar waar Nuweland sou staan, met die wolke wat afrol en die klank wat opslaan – of wat spanne soos ’n stywe skouer teen die strot tref as hulle onder die paviljoen uitdraf.

Maar op 5 September 1891 was dit ’n perd van ’n ander kleur; soos in die teks beskryf: “ … on a field in the Cape Town suburb of Newlands.”

Toe die plaaslike speler B.R. Duff die bal in die lug op gesool het, het niemand besef dat dit die begin was van ’n tradise wat langer as ’n eeu later nog sou groei nie – en dat daardie standplaas een van die beroemdste in wêreldrugby sou word nie. Daar is ongelukkig geen afbeelding van die wedstryd nie.

Die vroegse een van ’n wedstryd in Suid-Afrika, deur Otto Landsberg, is eers in 1888 voltooi.

Dis van ’n wedstryd tussen Biskoppe en Maties (toe nog Victoria Kollege genoem – en noudat dit Engels word, kan dit dalk weer so genoem word!).

Die staaltjie van William Webb Ellis wat op ’n dag in 1823 ’n sokkerbal opgetel het en daarmee begin hardloop het by ’n skool in Rugby, Engeland, word deur sommige historici betwyfel, maar die eerste balle waarmee gespeel is, was inderdaad rond.

En die kuns van “dribbel”, oftewel om die bal met kort skoppies grondlangs te hou, was tot die vorige generasie spelers (my oorlede pa se tyd) steeds algemeen, en toe was die bal reeds ovaalvormig, met agt stukke leer wat aanmekaar gestik was.

Ewenwel, rugby in Suid-Afrika het aan Tafelberg se voet begin, reeds in 1849 toe George Ogilvie dit by Bishops aan skoolseuns geleer het om hulle uit die kwaad te hou. Hyself was glo nie gek na die spel nie, maar die doel het die middele geheilig.

Nou, wat die boek betref, vir my is die deeglike kronieke van hoofsaaklik die eerste 50 toetse wat daar gespeel is, van bg. een in 1891 tot die Bokke teen die Wallabies op 27 September 2014, wat ons gewen het (28-10).

En hoewel ek heelwat intervarsities en provinsiale wedstyde daar bygewoon het, was daardie laaste wedstyd in die boek toevallig die eerste toetswedstryd wat ek bygewoon het!

Dié kleurvolle hardebandboek (uitgegee deur Mercury) beslaan 208 bladsye, met baie foto’s en statistieke; ’m “moet hê” vir elke rugbyliefhebber.